Polisieman doodgeskiet tydens rooftog

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Die polisie het ʼn groot soektog van stapel gestuur nadat ʼn groep gewapende rowers ʼn 36-jarige polisieman doodgeskiet het tydens ʼn rooftog aan die Oos-Rand.

Die rooftog het Woensdag omstreeks 07:30 by ʼn winkel in die Vosloorus Crossing-winkelsentrum plaasgevind. Volgens die polisie het twee beamptes patrollie in die gebied gedoen en was nie bewus van die rooftog nie. Die beamptes het toevallig op die groep rowers afgekom waarna die rowers op die beamptes losgebrand het.

Volgens die polisie is een van die beamptes noodlottig gewond. Sy kollega is nie beseer nie, maar was erg geskok en is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling. Die verdagtes het gevlug in ʼn silwer Nissan Tiida en ʼn wit Audi A4. Die Tiida is later in Vosloorus gevind.

Die polisie het gesê daar is vermoedelik ses verdagtes. Beeldmateriaal van kringtelevisiekameras word intussen ondersoek om die rowers te probeer identifiseer. Lt.genl. Lesetja Mothiba, polisiekommissaris in Gauteng, het ʼn beroep gedoen op gemeenskappe om die polisie by te staan in die stryd teen misdaad.

Enigiemand met inligting word versoek om 082 313 8299 of 082 444 4354 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.