Polisieman: ‘Ek het geweet dit is Zephany’

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Lt.kol. Mike Barkhuizen het die oomblik toe hy Zephany Nurse sien, geweet sy is die baba wat in 1997 ontvoer is, het Beeld Donderdag berig.

Barkhuizen, wat vir die Valke werk, het die afgelope vyf jaar na Zephany, nou 17 jaar oud, gesoek. Hy het gesê die uitslae van die DNS-toetse is vir hom net ʼn formaliteit aangesien hy dadelik geweet het dit is sy toe hy haar op 24 Februarie ontmoet het. “Ek was baie bly vir die ouers se onthalwe dat hulle kind gevind is.”

Zephany is gevind nadat haar biologiese ouers se tweede dogter, wat vier jaar na Zephany se ontvoering gebore is, vanjaar met gr. 8 begin het by ʼn skool in Kaapstad. Klasmaats het vir die meisie gesê daar is ʼn matriekmeisie wat presies soos sy lyk.

Die twee meisies het vriende geword en die jonger meisie se pa het voorgegee dat hy sy dogter se nuwe vriendin wil ontmoet. Die ooreenkomste tussen die twee kinders was merkwaardig en die pa het die polisie genader.

Die polisie het Zephany se “ouers” ondervra maar kon geen inligting vind oor haar geboorte volgens die inligting wat aan hulle gegee is. Die polisie het toestemming gekry om DNS-toetse te doen en het bevestig sy is die meisie wat 17 jaar gelede ontvoer is.

Die vrou wat Zephany glo ontvoer en grootgemaak het sal Vrydag weer in die hof verskyn.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.