Polisieman en paramedikus-vriend doodgeskiet

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Polisiesersant, wat van diens af was, en sy vriend, ʼn paramedikus, is Woensdagaand voor ʼn huis in New Brighton, Port Elizabeth, doodgeskiet.

Brig. Marinda Mills, woordvoerder van die polisie, het gesê sers. Mzwabantu Xhathasi (39) het na sy vriend Ishmael Phumeza, ʼn paramedikus, se huis gery. Die twee mans het omstreeks 19:10 buite die huis gestaan toe drie verdagtes glo op hulle losgebrand het.

Volgens Mills is Xhathasi op die toneel dood terwyl Phumeza onderweg na die hospitaal aan sy beserings beswyk het. Xhathasi was ʼn speurder by die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Mount Road terwyl Phumeza ʼn paramedikus was by Netcare 911 in Port Elizabeth.

“Ons is geskok en baie hartseer oor die moord op een van ons polisiebeamptes en sy vriend. Ons innige meegevoel aan hul families, vriende en kollegas. Dit is ʼn groot verlies vir ons gemeenskap aangesien dit albei mans se werk was om te beskerm en lewens te red,” het Weziwe Tikana, LUR vir vervoer en veiligheid, gesê.

Lt.genl. Celiwe Binta, polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het intussen gesê die ondersoek sal deur die Valke in die provinsie gelei word. “Ons wil ons ondersteuning toesê aan die bedroefde families wat uiters geskok en hartseer is, terwyl ons probeer sin maak van die sinnelose en wrede moord op ons lid en sy vriend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jacques ·

Mense wat nog glo dinge gaan beter word nog maak n groot vout,jammer om dit te hoor was seker n goeie poliesie man gewees.

Theresa ·

Dalk te doen met ‘n saak waaraan die polisieman gewerk het?
Die vriend was nou ook die verkeerde tyd op die verkeerde plek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.