Polisieman geskiet toe hy op inbraak reageer

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Oos-Kaapse polisie is op die spoor van ’n verdagte wat glo ’n polisiebeampte oor die naweek by die poskantoor op die kusdorp Gonubie aangeval en geskiet het.

Kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, sê polisiebeamptes het Saterdag in die vroeë oggendure gereageer op ’n alarm wat by die plaaslike poskantoor afgegaan het. Met hul aankoms het hulle ’n onbekende man gekry het wat op die perseel weggekruip het.

Die man het beweer dat hy ’n sekerheidswag is hoewel hy nie in ’n uniform geklee was nie. Die man het ook voorgegee dat hy by ’n veiligheidsmaatskappy werk wat nie bestaan nie.

Polisiebeamptes wou die man deursoek waarop die man ’n vuurwapen uitgepluk en ’n skoot afgevuur het. ’n Polisiebeampte is gewond.

Die verdagte het ná die skietery te voet op die vlug geslaan en die gewonde polisiebeampte is na ’n hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Soci sê ’n ondersoek het intussen aan die lig gebring dat daar die betrokke nag by die poskantoor ingebreek is. Dit is egter in die stadium onduidelik of enige geld gedurende die inbraak gebuit is.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het ’n 72-uur-aksieplan geaktiveer om die verdagte op te spoor en in hegtenis te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.