Polisieman geskors oor video van aanranding

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

ʼn Kaapse polisiesersant is geskors ná ʼn video aan die lig gekom het wat glo wys hoe polisiebeamptes ʼn ouma aanrand.

Kol. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, het gesê die beamptes wat in die video verskyn is verbonde aan die Kraaifontein-polisiestasie. Roseline Appolis (50) het Woensdag ʼn saak aanhangig gemaak nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) haar versoek het om dit te doen.

“Na afloop hiervan is daar besluit om een van die polisielede onmiddellik te skors in reaksie op bestuur se hantering van die kwessie,” het Kinana gesê. Die polisiebeampte is die 45-jarige sersant Irvin James Kallie. Die saak sal deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek word.

“Ons wil ons posisie benadruk dat dit wat ons in die video gesien het totaal en al onaanvaarbaar is binne die kultuur en filosofie van die SAPD,” het Kinana gesê. Interne dissiplinêre stappe sal teen die betrokkenes geneem word.

Die video is Woensdag op YouTube gelaai. Die verduideliking by die video lees: “Die 50-jarige Roseline Appolis is op 23 November deur die polisie aangerand.” Volgens die persoon wat die video opgelaai het, het Appolis tussenbeide getree om ʼn argument stop te sit nadat haar dogter glo deur die polisie geklap is. “Appolis is in hegtenis geneem, in ʼn sel gehou vir twee dae en het toe in die hof verskyn.”

Aan die begin van die video is Appolis op die grond en ʼn man wat ʼn koeëlvastebaadjie oor siviele klere aan het, probeer haar glo boei. ʼn Tweede man, wat ʼn denimbroek en ʼn T-hemp aan het, staan op haar kop. ʼn Derde man, wat ook ʼn denimbroek en ʼn T-hemp aan het, gryp Appolis aan haar broek.

WAARSKUWING: Die video bevat kru taal en is grafies van aard. Die video kan sensitiewe kykers ontstel.

http://youtu.be/1w5Dl3Y6aiw

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kosie ·

‘n Plan. Selfone is in almal se sakke en hande en die maak van videogrepe kan deur almal gemaak word. So kan baie ongeruimdhede op video vasgevang word en sodoende kan talle obskure insidente hul weg vind na sosiale media.

Tokkie ·

Hoop hulle skors ook die polisiemanne van Lichtenburg wat die oud burgemeester so aangeval het.

Trippie ·

Lees ek reg? Met ander woorde ons gaan binnekort sonder enige polisie wees? Of is dit net van toepassing op kleur op kleur?

Nina ·

Jy lewer steeds kommentaar onder my vriendin se ‘nickname’. Pateet. Jou lewetjie bietjie vervelig?

pop ·

Ha ha ha ha Trippie, jys reg!!!! Mense vat asb videos van elke insident. So sien die wereld daar buite ook wat aangaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.