Polisieman gevonnis oor twee moorde

Argieffoto

ʼn Polisiebeampte is in die Ramsgate-hooggeregshof in KwaZulu-Natal skuldig bevind op aanklag van twee moorde.

Ao Patrick Gosling is Vrydag tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die twee moorde wat in 2014 plaasgevind het, het Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod), Maandag gesê.

“Albei sake, alhoewel dit afsonderlik gebeur het, is deur Opod ondersoek en is deur die modus operandi verbind met die polisiebeampte. Gosling, wat by Port Shepstone-polisie gestasioneer was, is onderskeidelik op elk van die aanklagte tot 10 jaar en 15 jaar tronkstraf gevonnis.”

Dlamini het gesê Gosling het op 13 Augustus 2014 die 26-jarige Mlondi Ngcobo by Margate-taxistaanplek doodgeskiet. “Gosling het beweer hy was besig met ʼn misdaadbekampingsoperasie by die taxistaanplek. Hy het gesê Ngcobo het weggehardloop en hy het hom gejaag. Ngcobo het glo die polisiebeampte met ʼn mes gedreig en Gosling het hom in die maag geskiet. Ngcobo het aan sy beserings beswyk.”

In die tweede voorval op 21 Desember 2014 het Gosling die 29-jarige Michael Zakhele Ndovela van Nyandezulu by die Port Shepstone-taxistaanplek doodgeskiet. “Gosling het ʼn soortgelyke verweer ingedien dat Ndovela hom met ʼn mes gedreig het,” het Dlamini bygevoeg. “Op albei sake het hy beweer hy wou die verdagtes in hegtenis neem, omdat hy vermoed het hulle dryf handel met dwelmmiddels en dat hulle hom tydens die inhegtenisnemings aangeval het.”

Opod het albei sake ondersoek en aanbeveel dat Gosling vervolg moet word.

“Ao Gosling is daarna op 6 Junie 2015 in hegtenis geneem op aanklag van die twee moorde. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.”

Hy het gesê dit het ook tydens die hofsaak aan die lig gekom dat Gosling soortgelyke misdade gepleeg het waar hy verdagtes aan die Suidkus doodgeskiet het in plekke soos Port Shepstone, Murchison, Margate en Harding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Vele kere gevra of enige iemand kan verduidelik waarom vonnisse gelyklopend uitegdien word maar ‘n antwoord bly steeds in gebreke. Die 10 jaar vonnis geld dus nie en hy dien net die 15 jaar vonnis uit met moontlike parool. Die laaste paragraaf laat dit klink asof hy ‘n massamoordenaar is maar vir slegs twee moorde verhoor word en een vonnis uitdien.

Johann Marx ·

‘n Hooggeregshof Regter met jare se ondervinding, bygestaan deur kollegas, met AL die bewyse voor hom…mag NIE die doodstraf toepas nie. Maar ‘n polisieman met ‘n vuurwapen kan ‘n verdagte in een oomblik “verhoor, vonnis, en die doodstraf toepas”? Dit werk nie vir my nie…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.