Polisieman gewond, 2 ‘renosterstropers’ doodgeskiet

Argieffoto: Susan Scott

ʼn Beampte verbonde aan ʼn spesiale taakspan van die polisie is die afgelope naweek gewond tydens ʼn intelligensiegedrewe poging wat die lewe van twee vermeende renosterstropers geëis het.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die voorval het Saterdag omstreeks 21:00 in die Loskop-natuurreservaat, noord van Middelburg in Mpumalanga, plaasgevind.

“Beamptes van die spesiale taakspan en veediefstaleenheid het op inligting gereageer en twee verdagtes in die reservaat opgespoor toe daar op die polisie begin skiet is. ʼn Skietgeveg het uitgebreek waartydens die beampte in die been geskiet is. Die twee verdagtes is noodlottig gewond,” het Naidoo gesê.

Die polisie het op ʼn geweer met ʼn knaldemper beslag gelê.

Naidoo het die spanne wat by Saterdagaand se poging betrokke was, geloof en gesê hulle stel hul eie lewe in gevaar om lewens en eiendom te beskerm.

“Suid-Afrika gaan die afgelope paar jaar gebuk onder renosterstropery. Die gruwelike dade duur voort ondanks stropers wat hul lewe verloor, in hegtenis geneem en swaar gevonnis word. Verskeie polisie-eenhede het hul onwrikbare toewyding belowe om stropery voortdurend te bekamp,” het Naidoo bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tom Nel ·

Jammer van die beampte wat raak geskiet is maar ons dank aan sy en ander se toegewydheid om ons natuur te bewaar, wel gedaan, trots op julle

Cherokee ·

Eerste paragraaf, dit was nie ‘n poging maar aksie, geslaagde aksie. Jammer dat een van die beamptes gewond is.

Ellisras ·

Help my asb reg. Ek hoop ek is verkeerd. Regtig.
Soos ek dit het as ‘n SAPD lid in uitvoering van jou pligte gewond is, is jy die mediese fonds se verantwoordelikheid. Bybetalings en al.

Patriot ·

Ons grensposte en lughawens word nie reg beman en bestuur. Al is dit plaaslike mense wat die strooptogte uitvoer, moet daardie horings tog op `n manier uit SA gevat word. Ek reken dat hulle sommer hier in SA dit tot poeier of room of watook al verwerk en makliker uitgesmokkel word. Elke Oosterse besoeker aan SA moet onder die vergrootglas gebring word… Hoeveel keer per jaar kom hy hiernatoe, waar bly hy tydens sy verblyf, en wat is sy rede vir besoek. Onskuldige toeriste kom nie meer as 1 keer per jaar SA toe nie….

Ben ·

Ek dink nie daar is hoegenaamd enige bestuur by die Regering van die dag nie. Hulle besef nie dat hulle heel belangrikste mandaat is om die burgers van die land te beskerm nie. Om dit te kan doen moet jy jou grense poste beman asook jou grense. Hier is ook miljoene mense wat kamstig vlugtellling is wat vryloop. In ander lande is hulle in kampe. Waar het jy ook al gesien dat ‘n politieke party ‘n militere vleuel het? Waarvoor? Wat Suid Afrika nodig het is ‘n nuwe minimum regering wat na al sy burgers omsien en nie net een ras veryk nie. Suid Afrika sal 100 000 keer meer suksesvol wees as al sy burgers saamstaan. Wonder wat is die doel van die SANDF? Niksdoen en Geldmors.

Haan ·

Dit is voor die hand liggend dat die renoster stroop netwerk tot bo in die regering loop. Ek sukkel om te dink dat ons korrupte ministers nie n vinger in hierdie multi-miljoen dollar ‘pie’ het nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.