Polisieman gewond tydens roof, kaping in Bloemfontein

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Polisieman moes Saterdag geopereer word nadat hy tydens ʼn gewapende roof in Heidedal in Bloemfontein gewond is.

Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê ʼn groep van tussen ses en 11 gewapende rowers het Vrydag omstreeks 19:00 op Shoprite in die Twin City-winkelsentrum toegesak.

“Die mans het in die winkel ingestorm en geld geëis. Hulle was gewapen met lang gewere en pistole,” het hy gesê. “Die meeste van die winkel se geld is vroeër die dag reeds gebank, maar die rowers het ʼn onbekende bedrag geld gevat. Hulle het daarna die drankwinkel langs Shoprite beroof waar hulle ʼn klomp bottels van die duurder drank soos whisky ensomeer gesteel het.”

Volgens Nagel het een groep van die mans in ʼn Nissan-bakkie gevlug. Hulle is egter by die uitgang deur die polisie, wat op ʼn noodoproep gereageer het, voorgekeer. Die verdagtes het op die polisie losgebrand en een polisiebeampte is in sy hand gewond. Die rowers het ook die brandstoftenk van die polisiemotor raakgeskiet, wat veroorsaak het dat die polisie hulle nie kon agternasit nie.

Die tweede groep rowers het ʼn Toyota RunX met ʼn vrou en haar dogter in die motor voor die winkelsentrum gekaap. Hulle het die dogter by die uitgang van die sentrum afgelaai en die vrou by die Pelonomi-hospitaal.

“Die vrou is beseer, maar ons is in hierdie stadium nie seker of sy tydens die rooftog of tydens die kaping beseer is nie,” het Nagel gesê. Hy het gesê die RunX sowel as die Nissan-bakkie is later verlate gevind, onderskeidelik in Batho en in Ooseinde.

Aanklagte van sakeroof, kaping en poging tot moord is aanhangig gemaak. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bessie ·

Die mensdom is siek Die ANC regering sal sy sogenaamde weermag daagliks oral ontplooi Hulle lê net en slaap en sit in die sin En speel Domino’s en kaart Gee vir hulle werk Die dikkes v d polisie kan ook patrollie doen en sodoende gewig verloor Waar of onwaar? .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.