Polisieman help glo renosterhoring verkwansel

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 39-jarige polisiebeampte van Mpumalanga is in hegtenis geneem nadat hy glo reëlings getref het om ʼn renosterhoring te verkoop.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, het gesê die beampte, ʼn konstabel verbonde aan die Elukwatini-polisie se misdaadintelligensie-eenheid, word verbind met ʼn groep verdagtes wat op 5 April in Bela-Bela in hegtenis geneem is.

Die vyf mans, tussen 26 en 42 jaar oud, is vasgetrek nadat die Valke ʼn wenk van die publiek ontvang het oor mans wat glo ʼn renosterhoring wou verkoop. ʼn Lokval is gestel en ʼn lid van die Valke het gereël om hulle te ontmoet om die horing te koop. Die verdagtes het vir hom die horing gewys en die beampte het dadelik ʼn teken aan die res van die span gegee om blitsig die mans in hegtenis te neem. Die Valke het beslag gelê op die horing, ter waarde van sowat R60 000, en ʼn swart City Golf.

Sekgotodi het gesê verdere ondersoek het die polisiebeampte met die groep verbind en hy is Woensdag deur beamptes van die Secunda-polisie se direktoraat vir prioriteitsondersoeke en die Middelburg-polisie se ondersoekeenheid vir beslaglegging op finansiële bates in hegtenis geneem.

“Die ondersoek dui daarop dat die beampte op die dag van die voorval glo die reëlings met die ‘koper’ getref het. Hy het glo daarna die verdagtes en renosterhoring gaan oplaai en in sy ampsvoertuig na die ontmoetingsplek in Bela-Bela geneem,” het Sekgotodi gesê.

Die beampte moet Donderdag in die landdroshof op Bela-Bela verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gesiggie ·

DO NOT TRUST A POLICEMAN? ai, ja…. die land sal nooit beskerm kan word…. want hul is kop in een mus”’dan wil hy wat n polisieman is vir my kom vertel… DO NOT DO CRIME??? (^_^)……….

Belmarie ·

Jy, Mnr. Polisieman is veronderstel om te help om ons land en sy skatte te bewaar….

Theresa B ·

Sal ook hulle siele verkoop vir geld. Korrupsie seevier in ons land en dra grootliks by tot ons land en mense se ondergang.

Rina Pretorius ·

sommige ouens dink as jy n polisieman word is dit ‘n goeie dekking en kan hy dus maak wat hy wil want hy sal nie gavang word nie want hy is die ou wat die vangwerk doen, ek vertrou nie meer die polisiemanne en vroue nie, ek glo dat deesdae se polisie is te veel betrokke by onheiligheid en hiermee se ek gladnie dat almal so is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.