Polisieman hoor oor borgtog ná moord op staatsgetuie

Walter Francis. Foto: ANA via Facebook.

Die polisieman wat van die moord op ʼn staatsgetuie aangekla word se aansoek om borgtog is Dinsdag in die Port Elizabeth-landdroshof van die hand gewys.

Alex Ferreira (28) is 10 maande gelede in Bethelsdorp doodgeskiet en konstabel Walter Francis (31) is laat in November in verband met die moord in hegtenis geneem. Francis word saam met Sameal Gallant en Wayne Wabanie, wat glo die sneller getrek het, aangekla.

Ferreira sou getuig in ʼn verhoor oor ʼn bendeverwante moord wat glo met Francis se wapen gepleeg is.

Maroela Media het vroeër berig staatsaanklaer Liezel Landman het borgtog teengestaan en ʼn verklaring van die ondersoekbeampte voorgelees. Volgens die staat het Francis sy eie motor gebruik om die skieters na Bethelsdorp te vervoer waar Ferreira vermoor is.

Die staat voer aan dat daar getuies is wat sal getuig dat Francis deel was van die beplanning en die uitvoer van die moord op Ferreira.

Landdros Sanjani Naidoo het tydens haar uitspraak gesê daar is niks wat vir haar as buitengewoon uitstaan in Francis se persoonlike omstandighede nie. Francis was ten tyde van Ferreira se moord uit op borgtog vir ʼn ander moordsaak.

“Hy is ʼn polisiebeampte en mense gaan na die polisie toe vir beskerming. Ek is van mening dat hy weer ʼn keer die beginsels van die strafregstelsel sal ondermyn,” het Naidoo gesê.

Sedert sy inhegtenisneming ontvang Francis nie meer ʼn salaris en bydraes tot sy mediese fonds nie. Die saak is tot 7 Februarie uitgestel vir verdere ondersoek.

Francis en die beweerde bendelede Enzorich Kroates (22) en Clement Kogana (29) word saam aangekla in die ander saak waarvan die verhoor in Mei sal begin.

Ferreira het glo vir Kroates en Kogana ʼn saamrygeleentheid gegee toe hulle na bewering op ʼn ander bendelid, Denton Rademeyer (24), losgebrand het. Francis het na bewering sy amptelike vuurwapen en ammunisie vir hierdie skietery verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Buitestander ·

‘n Man wat opgelei is in reg en geregtigheid wat die wet ken ken moet dubbel die straf ontvang as die ander bendelede ontvang.

Cherokee ·

Hy het sy eie kar gebruik, Buitestaander. Dit was nou wel ‘n polisiewapen maar sy eie kar. So miskien is dit al wat die polisie teen hom kan hou – gebruik van staatseiendom in privaature.

Cherokee ·

Stupid kommentaar geplaas en niemand volg dit op nie. Ek was net op daardie stadium, ure gelede, lus om iets regtig dom te skryf (om reaksie uit te lok) maar, geen reaksie daarop nie. Miskien lees mense nie regtig nie maar skryf net.

Bokka ·

Voor GOD sal jy nie met die oordeelsdag so breed glimlag nie,daardie dag en uur sal jy huil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.