Polisieman in hof na hy glo vrou voor familielede doodskiet

Natasha Booise (Foto: Facebook)

’n Polisiebeampte sal Dinsdag in die hof verskyn nadat hy glo ’n vrou ten aanskoue van haar jong seun en ander familielede doodgeskiet het.

Natasha Booise is omstreeks 19:00 Sondagaand doodgeskiet terwyl sy saam met familie en vriende in ’n straat in Piketberg in die Wes-Kaap gestap het.

Volgens Grace Langa, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), het die polisiebeampte, wat nie aan diens was nie, met sy voertuig naby Booise en die ander mense stilgehou, waarna sy omgedraai en na sy voertuig geloop het.

“Sy het langs die bestuurder se deur gestaan en daar kon gesien word hoe hulle hande vashou terwyl hy steeds in die motor gesit het.”

Die beampte het glo kort hierna sy vuurwapen oorgehaal en verskeie skote op Booise afgevuur terwyl sy probeer vlug het. “Paramedici het haar op die toneel dood verklaar.”

Die beampte het hom aan die polisie oorgegee en is in hegtenis geneem. Hy verskyn vandag in die hof op aanklag van moord.

Booise sou Dinsdag haar 36ste verjaardag gevier het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Dit is ‘n verskriklike wrede wêreld waarin ons leef. Innige simpatie aan die naasbestaandes en mag reg en geregtigheid geskied.

Marius ·

Hy moet die swaarste straf moontlik toegedien word met geen kans op borgtog of parool. Dit is kommerwekkend oor hoe misdaad in ons land hoogty vier. Innige simpatie en medelye aan die famillie.

Aanhouer ·

Koelbloedige moord. Net so. En natuurlik weet diesulkes dat hul nie met hul lewe gaan boet nie. Daarom gee hulle nie ň flenter om om die moord in die EERSTE plek te pleeg nie. Bring die doodstraf terug!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.