Polisieman in hof oor ‘bloedmonsters in mikrogolf’

Shaun Donovan Hoffman Foto: SAPD / African News Agency

Shaun Donovan Hoffman Foto: SAPD / African News Agency

ʼn Adjudant-offisier in die polisie wat daarvan aangekla word dat hy bloedmonsters in dronkbestuursake gekook het, het Maandag weer in die handelsmisdaadhof in Bellville verskyn.

Shaun Donovan Hoffman (45) wat voorheen gestasioneer was by Pinelands-polisiestasie in Kaapstad, staan tereg op aanklagte van dwarsboming van die gereg en drie aanklagte van korrupsie.

Hoffman se verhoor sou na verwagting Maandag begin het, maar sy regsverteenwoordiger, Helena Brink, het aangedui dat Hoffman sonder rede haar mandaat beëindig het. Dit sal die derde keer wees dat Hoffman ʼn nuwe regsverteenwoordiger aanstel.

Hoffman is verlede jaar op borgtog van R2 000 vrygelaat. Landdros Sabrina Sonnenberg het sy borgtog verleng en hom gemaan om op 17 Februarie weer in die hof te verskyn.

Die saak hou verband met drie dronkbestuursake. Hoffman het na bewering bloedmonsters in ʼn mikrogolfoond gekook voordat hy die monsters vir forensiese analise gestuur het om die bloedalkoholvlakke te toets.

Hy het in twee gevalle na bewering telkens omkoopgeld van R1 000 van die twee dronkbestuurverdagtes geëis om die bewyse te laat “verdwyn”. Hy staan in dié twee gevalle onderskeidelik tereg op aanklagte van korrupsie en dwarsboming van die gereg.

Hy het na bewering in die derde geval omkoopgeld van R2 000 van die dronkbestuurverdagte geëis om van die bewyse ontslae te raak. In dié geval staan hy ook tereg op een aanklag van korrupsie en een van dwarsboming van die gereg.

Lees alle vorige berigte oor Shaun Donovan Hoffman op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Speedguard ·

Wat sal die mense nie nog aan dink nie, die arme lede wat hul werk opreg en eerlik onder die moeilikste omstandighede ooit probeer doen se werk word in ‘n japtrap weer ongedaan gemaak!!

Jean ·

Jinne boet, jy laat jou maar vir min omkoop hoor. Om jou lewe en jou loopbaan in die gedrang te plaas vir R1000 en R2000 is ‘n baie dom besluit gewees … Die polisie se naam gaan nou net verder agteruit, maak nie saak hoe mens probeer om positief te wees nie, daar is elke dag berigte van bedrog en korrupsie in die polisie .. hoe moet ons as landsburgers hulle nog vertrou?

Max ·

Hy het net gepoog om die beskuldigdes geld te bespaar. Die omkoop bedrag styg 1000% met elke vlak wat dit gaan van die Aanklagte Kantoor Bevelvoerder, na die speurder, na die Speurtak Bevelvoerder, na die Gebiedsbevelvoerder, na die Provinsiale Bevelvoerder, na die Nasionale Bevelvoerder en dan na al die bestuursvlakke in die regstelsel !

Kiepie ·

Jaco, dit “gebeur” nie met polisiemanne nie, dit was sy eie doelbewuste optrede.

m ·

kan mens so met jou werk speel? Waar dink jy gaan jy weer werk kry met jou bleek vel en rekord agter jou naam? Ai ai party mense wil ma net nie leer nie.

CAROL ·

JA NEE SOOS EK VOORHEEN GESE HET DIS HOEKOM ONS LAND IS SOOS WAT DIT IS – ONS GROOTSTE SKELMS IS IN DIE POLISIE!!!

Johan ·

My bloed kook ook as ek die lees, maar ek glo as ons Polisie beter betaal word vir die werk wat hul doen, daar ook minder korrupsie sal plaasvind. Vandag se tye is moeilik, en mense sien enige ding as ‘n uitweg om te kan oorleef. Ek praat dit gladnie goed nie, maar betaal die mense beter !

leon ·

Nee Johan hulle word genoeg betaal n kaptein kry vandag die salaris van n lt kol. wat 15 jaar een was so 8 jaar gelede . geen verskoning vir korrupsie nie

Annie ·

Kan nie glo dat n mense sy siel kan verkoop vir ‘n R1000 nie

Drakensberger ·

Kon hulle dié man nie maar toegelaat het om privaat klere aan te trek, of die uniform uit te trek, voor hulle hom geboei het nie? Sleg om ‘n polisieman in uniform met boeie te sien, hy kon eerder net in sy onderbroek gestaan het!

Ig ·

Wat almal vergeet is dat hy gevang is vir 2 bloedmonsters, dalk tientalle keer meer mee gekonkel en seker ook n fooi gevra afhangende wie dit was of wie meer kon bekostig

Sam ·

Drakensberger? Werklik broer? Nee wat dis baie goed hule het hom in sy uniform geboei. Mens moet maar dood eerlik dinge doen en nie jou kop in die sand soos ‘n volstruis druk nie Drakensberger. Die polisie moet sien korrupsie betaal nie. Op polisiepad blokade het een my nogal mooi gevra vir iets, ek maak toe of ek nie verstaan nie en bied hom ‘n pouveer aan wat ek vir my siek ma van ‘n plaas af gekry het. Hy het dit eers geneem en toe hy hoor dis vir my siek ma, dit terug gegee.
Ek ry nie met kontant rond nie. Bribery is ‘n vieslike pes wat uitgeroei moet word. Mens trek jou polisie uniform aan en gaan lewer diens , sonder om skelm te wees, of jy los dit.

wilma ·

Ai Johan jy praat eintlik sy dade goed. Mense is gierig. Pleeg miljarde se bedrog. hoe meer hul steel hoe meer soek hul

P.C. kemp ·

Die man is ‘n A/O in die Polisie
Watter voorbeeld stel hy vir sy mede kolegas. Ek kry hom glad nie jammer nie. Hy is daar om mense te arresteer wat dit doen, maar hy doen dit. Laat hy maar sy pak vat

Snip ·

Sien, dis nou sulke soort kos wat Bull dog (Gerrie) gaan eet, maar wag tot hy toeslaan op die groot koppe. Al die korrupte karakters se tyd raak min.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.