Polisieman in hof verwag ná skietdood, noodlottige botsing

Leighandre (Bay Lee) Jegels. Foto: Nick & Sam Photography/Boxing SA/Facebook

ʼn Polisiebeampte verbonde aan die Oos-Londense taktiese reaksiespan sal na verwagting vandag in die hof verskyn nadat hy glo sy vriendin, ʼn Suid-Afrikaanse bokskampioen, doodgeskiet en toe in ʼn botsing betrokke was wat die lewens van twee mense geëis het.

Die polisiebeampte, wat nie aan diens was ten tyde van die voorvalle nie, het glo Vrydagmiddag sy vriendin, Leighandre (Baby Lee) Jegels (25), in Mdantsane buite Oos-Londen doodgeskiet. Jegels se ma is ook tydens die voorval raakgeskiet en gewond, het Sontaga Seisa, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), gesê.

“Die motief was glo ʼn huishoudelike geskil tussen die paartjie,” het Seisa gesê. Die polisiebeampte het na die skietery van die toneel gevlug toe hy in die Peddie-omgewing in ʼn trompop botsing betrokke was. Volgens berigte is twee mense in die ander motor in die botsing dood.

Die polisiebeampte is in hegtenis geneem, maar sterk volgens berigte in ʼn hospitaal aan nadat hy tydens die botsing beseer is.

Dr. Malefetsane Peter Ngatane, voorsitter van Boks Suid-Afrika, het gesê Jegels en haar ma, Rita, was onderweg van hul huis in Dawn na ʼn gimnasium in Mdantsane toe die voorval plaasgevind het. Jegels is op die toneel dood verklaar, terwyl haar ma glo verskeie kere geskiet is en volgens Ngatane in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal in Oos-Londen is.

Volgens Ngatane het Jegels vroeër ʼn beskermingsbevel teen die polisiebeampte bekom. Hy het Jegels beskryf as een van die land se suksesvolste vroueboksers. Jegels is in 2016 as Suid-Afrika se junior kampioen in die kapokgewigafdeling gekroon en was later ook die WBA Pan-African junior kapokgewigkampioen.

“Die hele boksgemeenskap is steeds in skok en diep bedroef oor die afsterwe van hierdie juweel en heldin van die sportbeweging. Wat die hartseerste is, is die manier waarop sy haar lewe verloor het, veral in ’n tyd waar die laaste naweek van Vrouemaand gevier is.”

Die polisie se bestuur in die Oos-Kaap het gesê hy het met skok van die voorval te hore gekom en dat die saak onmiddellik na Opod verwys is vir verdere ondersoek.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval as “skokkend” beskryf en al die betrokke partye versoek om kalm te bly sodat Opod se ondersoek met die akkuraatheid wat dit verdien uitgevoer kan word.

Ntshinga het sy medelye met Jegels se familie betuig en gesê die polisie sal die nodige ondersteuning aan Opod verskaf vir sy ondersoek na die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

sweis ·

Pleks doen die polisie waarvoor hulle betaal word dien en beskerm die burgers van suid afrika

CN ·

Daar is iets vreeslik fout wanneer ‘n polisie beamte toegelaat word om vuurwapen te he terwyl daar ‘n beskermings bevel teen hom is :( Dis tragies :(

Willie ·

Jaloesie en n onopgeleide met n vuurwapen is n ramp om gewag te word, om te gebeur..

Jack Sadie ·

Nic Strydom. Ek het eers my vererg vir Hennie se kommentaar, toe besef ek alhoewel sy woordkeuse jou aanval, dit eintlik teen die SAPS gemik is. Jou berig is professioneel. Die so voort!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.