Polisieman in hof vir moord op staatsgetuie

Argieffoto

Die hof het Donderdag gehoor dat die motor wat tydens die moord van ʼn staatsgetuie gebruik is deur ʼn polisiebeampte bestuur is.

Alex Ferreira is tien maande gelede in Bethelsdorp doodgeskiet, en konst. Walter Francis is twee weke gelede vir sy moord in hegtenis geneem.

Francis word saam met Sameal Gallant en Wayne Wabanie aangekla, wat glo vir Ferreira geskiet het.

Ferreira (28) sou getuig in ʼn verhoor oor ʼn bendeverwante moord waarin ʼn polisiebeampte se wapen glo gebruik is.

Francis het Donderdag in die Port Elizabeth-landdroshof aansoek gedoen om borgtog en aangevoer daar was geen rede vir hom om Ferreira dood te maak nie, en dat hy nooit direkte kontak met hom gehad het nie. Francis het deur middel van Braam Greyling, sy prokureur, gesê hy is nie skuldig nie en sal ook so pleit.

Staatsaanklaer Liezel Landman het borgtog teengestaan en ʼn verklaring van die ondersoekbeampte voorgelees. Volgens die staat het Francis sy eie motor gebruik om die skieters na Bethelsdorp te vervoer waar Ferreira vermoor is.

Landman het voorts gesê die staat het bewyse dat Francis deel was van die beplanning én moord op Ferreira.

“Dit was in die middel van die dag in die openbaar. Hulle sal nie twee keer dink nie en het geen agting vir omstanders nie. Hy het twee moordsake teen hom. Hy is aandadig aan die geweld, of hy nou die wapen verskaf het, of die sneller getrek het,” het Landman gesê.

Landdros Sanjani Naidoo sal volgende week haar uitspraak op die aansoek om borgtog lewer.

Konst. Francis (31) en die beweerde bendelede Enzorich Kroates (22) en Clement Kogana (29) word saam aangekla in ʼn ander verhoor wat Mei volgende jaar gaan begin.

Ferreira het vir Kroates en Kogana ʼn rygeleentheid gegee toe hulle glo op ʼn vyand van ʼn ander bende, Denton Rademeyer (24), losgebrand het. Francis het na bewering sy amptelike wapen en ammunisie vir die skietery verskaf. Francis dien steeds in die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.