Polisieman kaap glo paartjie by Balfour

Vusi Tshabalala beweer ’n polisieman het hom en sy vrou die naweek by Balfour in Mpumalanga gekaap. Foto: Twitter

ʼn Konstabel van Mpumalanga het sy kollegas twee dae lank ontduik voordat hy hom oorgegee en in hegtenis geneem is nadat hy glo die naweek ʼn paartjie gekaap het.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê die 33-jarige konstabel van die Balfour-polisiestasie was Saterdagaand aan diens toe hy glo, terwyl hy in ʼn staatsvoertuig gery het, vir ʼn motorbestuurder beduie het om van die pad af te trek.

Die voorval het Sondag aan die lig gekom danksy ʼn twiet van die slagoffer, Vusi Tshabalala, waarby hy foto’s van die vermeende kaper en ʼn video van die kaping gedeel het.

“Ons is gister deur ʼn polisieoffisier [sic] gekaap. Sy naam is Gcinumuzi J. Mashinini. Dit het op die R23 by Balfour gebeur, en dié polisiebeampte werk in Balfour se polisiekantoor.”

Hlathi sê volgens hul inligting het die konstabel na die motor gestap en die bestuurder en sy vrou aangesê om uit te klim. “Die verdagte het toe die paartjie se voertuig gekaap terwyl hy ʼn vuurwapen op die kapingslagoffers gerig het en die staatsvoertuig daar gelaat.”

Die voorval het Saterdagaand ná donker plaasgevind. Sondag se twiet deur Tshabalala is reeds amper 700 keer hertwiet en nagenoeg 50 gebruikers het daarop kommentaar gelewer. Een wou by Tshabalala weet wat van die beampte se voertuig geword het as hy dan kwansuis alleen te werk gegaan het. “Hy het dit op die toneel gelaat,” het Tshabalala geantwoord.

Tshabalala het foto’s van die vermeende kaper op Twitter gedeel.

Hy beweer hy het by die polisiekantoor oor die voorval gaan kla. “Hulle het gesê ʼn ander beampte het die voertuig verlede Donderdag bespreek…. Hy het dit waarskynlik nie bespreek nie sodat dit nie na hom teruggevoer kon word nie.”

Talle gebruikers het Tshabalala daarvan beskuldig dat hy die voorval uit die duim gesuig het, maar ene Boitumelo het laat hoor: “Dis waar. [Die beampte] word met daai voertuig vermis. My pa is ʼn polisieman by daai kantoor.

“[Die vermeende kaper] het die vangwa met die sleutels [op die toneel] gelaat. Hy het dit nie bespreek nie. Dis hoekom hy nie daaroor gepla was om dit te laat nie.”

Sy kollegas het nie weer van die konstabel gehoor nie tot hy hom Maandagaand oorgegee het. Tydens sy inhegtenisneming is die slagoffer se Polo Vivo teruggekry sowel as die staat se vuurwapen wat hy na bewering tydens die kaping gebruik het.

Die konstabel kom na verwagting Woensdagoggend voor in die landdroshof op Balfour op aanklagte van motorkaping, die wederegtelike gebruik van ʼn staatsvoertuig en diefstal van ʼn vuurwapen.

Lt.genl. Mondli Zuma het intussen sy kommer uitgespreek oor wetstoepassers se betrokkenheid by misdaad. Hy het polisielede gewaarsku geen misdadige of korrupte elemente sal in die SAPD geduld word nie.

Twee weke gelede is drie polisiebeamptes tydens ʼn gesamentlike optrede vir hul aandeel aan renosterstropery in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem. Die drie word aangehou tot hul borgtogverhoor Maandag in Witrivier se landdroshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ian ·

Weet nie eers waar om te begin met kommentaar nie. Selfbeskikking sal wel die probleem oplos.

Chira ·

Hoekom is ek nie verbaas nie. Dit is nou al die hoeveelse aangelentheid waar n lid van die mag by een of ander krimineke situasie betrokke is. Hulle gaan hof toe word los gelaat op R500 borg. By sy werk word hy geskors net volle betalng en dit is die laaste sien of hoor daarvan

AW ·

“I know we live in a fallen world,
But just because I breath corrupt air,
Rub elbows with corrupt men,
Never, make the mistake of thinking 
That I am corruptible!!”
[Live by Night]

jaco ·

lees ek reg: beide die kaper en die slagoffer is van dieselfde ras; nogal albei van Ramaphosa se “our people”? Waarom hulle eie ras teiken?

Anoniem ·

Want dit gaan nie so baie oor ras soos julle dink nie. Alle rasse word gekaap, vermoor en verkrag.

Jana ·

Swart, wit of bruin almal word geteiken deur misdadigers nie net wit mense nie!!!!

Koos de Meyer. ·

D is nou die mense op wie ons moet vertrou. Deesdae kan jy op niemand staat maak nie. Die land in die afgrond in.

George Pelser ·

Hy’s seker al terug by die werk. Hulls kom mos niks oor nie.

George Pelser ·

Hy’s seker al terug by die werk. Hulle kom mos niks oor nie.

Johann Holtzhausen ·

Ek sal liewer niks sê nie. My kommentare word deesdae nie meer gepubliseer nie.

Linda van Mosselbaai ·

Onthou net daar is ook baie goeie polisiemanne en vroue.
Ons is trots op ons mag op Mosselbaai
Ons bid vir julle en almal wat ons veilig en gesond hou- dis nou van die buurtwagte en alle mediese, brandweer en verkeers mense

joseph ·

Linda jy is seker die enigste in die land wats saps vertrou, hulle is deel van die korupte anc dis onmoontlik om hulle te vertrou.

L ·

En sapd sien pvt sekuriteit as n probleem?! Ja, sapd het duidelik n hengse probleem. Advies: Laat vaar Affirmative Action/BE. Opleiding by pvt sekuriteit maatskapye. Jaarlikse verpligte herevaluering en toetse wat geslaag moet word. Geen kriminele rekord nie. Moet RSA burger wees.

ne ·

Sekerlik R500-00 boete dan is hy weer op straat om aan te gaan met sy korrupte lewe. Maar as hy wit was sou die boete seker R5,000-00 gewees het. Dubbele standaarde in SA

Agreyvenstien ·

Dis nou mense wat opgelei is om ‘n staats diens te verskaf en die omgewing/gemenskap te besekrm teen misdaad wat sulke goed aanvang? Jammer maar die polisie en weermag van ons land is nutteloos. as hier nou ‘n oorlog uitbreuk is sal ons maar moet self baklei en beskerm. Nutteloos verby.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.