Polisieman langs pad doodgeskiet, beroof

saps-sapd-polisie

Foto: SAPD/Facebook

ʼn Gautengse polisiebeampte is Dinsdagaand geskiet en van sy dienspistool beroof terwyl hy aan diens was.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 20:00 in Diepsloot, tussen Pretoria en Johannesburg, plaasgevind.

“Die slagoffer, ʼn 31-jarige konstabel verbonde aan die Diepsloot-polisie, was saam met sy kollega toe vier mans hulle oorweldig het terwyl hulle besig was om ʼn pap band te ruil,” het Dlamini gesê. “Die verdagtes het op die beamptes losgebrand waarna die beamptes se vuurwapens afgeneem is. Die verdagtes het te voet gevlug.”

Die beampte het op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk. Sy kollega is nie beseer nie.

Die polisie het ʼn spesiale taakspan saamgestel en ʼn volskaalse soektog na die verdagtes van stapel gestuur. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om na vore te kom met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Mense met inligting kan Crime Stop by 08600 10111 bel. Inligting wat tot die suksesvolle inhegtenisneming en vervolging van die verdagtes lei, kan beloon word.

Dlamini het gesê die rooftog hou nie verband met onluste wat Dinsdagaand in Diepsloot uitgebreek het nie. Die polisie en Johannesburgse metropolisie moes die R511 vir verkeer sluit nadat voertuie deur betogers met klippe bestook is. Die betogers het ook op die Diepsloot Mall toegesak en winkels geplunder. ʼn Voertuig is ook aan die brand gesteek.

Die polisie ondersoek ʼn saak van openbare geweld en sakeroof. Dit is nog nie duidelik waaroor die mense betoog het nie. Die situasie was teen Woensdag weer kalm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elsie ·

Dit is so tragies ‘n mens lees amper elke dag van polisiemanne wat afgemaai word. Gee asb meer mag aan ons SAP lede, dit is nie die korruptes wat uigemoor word nie maar die manne wat hul werk doen wat so afgemaai word. SA hardloop so agter als aan wat die buiteland doen. Kyk na die buiteland se polisie, hulle vat geen twak

vermeende ·

Wanneer kan ons taakspanne verwag wat moord op blankes ondersoek, hoekom word alle stoppe uitgeruk sodra n polisie beampte gedood word maar nie die mense wat belasting betaal om hulle n verdienste te gee nie.
Praat van mors in jou eie drinkwatet.

Mense regte komissie ·

Weereens Mense regte kommissie, kom julle staan mos op vir die regte van mense, die Polisie beamptes het ook ‘n reg op lewe, kom baklei daarvoor en sorteer dit uit. Die gemors moet die doodstraf kry, hoe skiet jy Polisie beamptes los, geen respek vir die werk wat hul doen en soos Elsie sê, dit is die goeie getroue mense wat ons land oppas, nee komaan man, tree op, wys dat jul optreen en mense beskerm en wys dat iemand wat ‘n lewe neem op dieselfde manier gaan. Daardie korrupte Polisieman wat weens wapenhandel in die tronk is, hier is nog ‘n hardwerkende beampte op jou lys!!!!!!

Koos ·

Dit is skrikwekkend as die misdadigers die polisie aanval en roof die strawwe moet hersien word dit is nie meer ‘n afskrikmiddel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.