Polisieman met verlof vang kapers

Die Brits-landdroshof. (Argieffoto: Landi Malan)

Danksy ʼn toegewyde speurder wat van diens af was, is ʼn kaping Maandagaand in Hartbeespoort in Noordwes gefnuik.

Volgens inligting tot die polisie se beskikking het die 30-jarige slagoffer sy werksmotor, ʼn Toyota Hilux, omtrent 22:10 op die R511 op pad na Brits bestuur, toe hy stilgehou het om ʼn voetganger op te laai.

“Toe hulle verby die Hernic-myn ry, het die passasier gevra om by ʼn grondpad wat by die teerpad aansluit, afgelaai te word,” sê lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder van Noordwes.

“In ʼn dramatiese wending het drie mans glo uit die bosse aangeloop gekom toe die slagoffer sy passasier aflaai. Die slagoffer is uit sy motor gedwing en met ʼn vuurwapen gedreig. Sy hande is vasgebind en hy is gedwing om in ʼn blou Toyota Corolla te klim wat voor die Hilux kom stop het,” verduidelik Funani.

Twee verdagtes het toe met hom weggery.

Volgns Funani het ʼn polisielid wat met verlof was in sy privaat voertuig op die R511 gery, toe hy sien hoe die Toyota Corolla op die grondpad jaag. “Hy het die Corolla agternagesit en ʼn oproep gemaak na die polisiestasie om hulp te ontbied,” sê Funani.

Polisie van Hartbeespoortdam het vinnig reageer en die Corolla agternagesit en afgetrek op die R513, naby die Hartbeespoortdam. “Die twee verdagtes het uit die motor gespring, maar die polisie het hulle agternagesit en vasgetrek. Die slagoffer is in die motor gevind, vasgebind met skoenveters. Die polisie het ook op die voertuig beslag gelê.”

Twee ander polisiemanne het die Toyota Hilux op ʼn grondpad gesien ry, die voertuig gevolg en die verdagtes voorgekeer by Damdoryn, tussen Hartbeespoortdam en Brits. Nog twee verdagtes is in hegtenis geneem en die polisie het ook op die Hilux  beslag gelê.

Die vier verdagtes, Jabulani Sibasa (46), Thabo Ncobo (25), Siphelele Mazibuko (25) en Johannes Nceba (32), het almal reeds in die Brits-landdroshof verskyn op aanklagte van besit van ʼn beweerde gesteelde voertuig en ontvoering. Hulle bly in aanhouding tot hulle weer op 19 Februarie in die hof verskyn.

“Motoriste word weereens aangeraai om versigtig te wees wanneer onbekende mense hulle op die pad voorkeer en laat stilhou. Indien die polisie of metropolisie jou laat stop en jy voel onveilig, skakel jou noodligte aan en ry stadig na die naaste polisiestasie,” sê Funani.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ES ·

Ek kan nie dink dat mense nog voetgangers oplaai vir saamrygeleenthede nie. Dit is deesdae nie eers veilig om jou kar se wiel te ruil langs die pad nie.

Sarel ·

Bravo….goed gedoen
Is die Polisie opgelei in die ” Blou zLig : protokol

Leonie ·

Dis great om nog toegewyde beamptes te hê!! Dankie. Goeie werk ook van die SAPS om so vining te reageer en die gemors vas te trek. Hoop net nie die howe laat ons nou weer in die steek nie….

Scalla ·

Dankie vir die speurder se flinke optrede, werkgewers se voertuie word gebruik as taxis en hul vra geld vir die geleentheid, die persone se name verklaar dus die gebeurtenis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.