Polisieman moet stiefpa se liggaam ‘teruggee’

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het ’n polisiebeampte en sy familielede in ’n hofbevel verplig om die liggaam van sy oorlede stiefpa aan dié se biologiese seun terug te besorg. Dít nadat die polisiebeampte in volle uniform by ’n begrafnisondernemer opgedaag en die liggaam namens sy ma verwyder het.

Die biologiese seun (en enigste erfgenaam) van die oorledene voer in hofstukke aan hy het nie toestemming gegee dat sy pa se oorskot by die betrokke begrafnisondernemer verwyder word nie. Henry Christie Prins jr. het einde verlede maand ’n dringende hofaansoek gebring waarin hy sy stiefbroer, sers. Rodney Moses, onder meer daarvan beskuldig dat hy sy posisie as polisiebeampte misbruik het om die liggaam onregmatig te verwyder.

Die hof het eindelik op 11 November in Henry se guns beslis en sy pa, Christie Prins sr., kon sedertdien ter ruste gelê word.

Christie sr. (73) is einde Oktober dood ná ’n stryd teen kanker.

Polisieman ‘misbruik’ sy mag

Regsaksie is die dag ná sy dood teen sy eggenoot, Jean Prins, en haar twee seuns, Christo Prins (Jean en die oorledene se biologiese seun) en Moses (stiefseun van die oorledene), begin nadat sy liggaam by ’n begrafnisondernemer verwyder is.

In die hofaansoek, wat Maroela Media onder oë gehad het, voer Henry aan dat sy stiefbroer sy rang as sersant in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) misbruik het om Christie se liggaam by die begrafnisondernemer te verwyder en aan Moses se ma, Jean, te besorg. Die egpaar was ten tyde van Christie se dood besig om te skei.

Argieffoto: SAPD

“Die lykskouer aan diens het my meegedeel dat die derde respondent [Rodney Moses] hulle in volle uniform genader het, sy gesag bevestig het deur sy rang in die SAPD te vermeld en die personeel in kennis te stel dat hy by magte is om die oorskot van my oorlede pa te neem en dit aan die tweede respondent [Jean Prins] te besorg,” lui die aansoek.

Volgens Henry is Moses en Christo daarna met die liggaam vort en het Moses aanvanklik geweier om te sê waarom hulle die liggaam verwyder het en waarheen hulle daarmee op pad was. Daar kon eindelik vasgestel word dat die liggaam na ’n ander begrafnisondernemer in Atlantis geneem is.

Luidens hofstukke is Henry van mening dat Moses nie net die personeel by die begrafnisondernemer gemanipuleer het nie, maar ook oneerlik was deur voor te gee dat hy magtiging gehad het om die liggaam te verwyder.

Weduwee stel haar kant

Jean het egter in opponerende aansoeke namens haar en haar twee seuns aangevoer dat hulle bloot die liggaam by die betrokke lykshuis verwyder het om na ’n “meer waardige” begrafnisondernemer te neem.

Sy hou ook vol dat sy as Christie se wettige vrou toestemming gehad het om dit te doen en geregtig is op 50% van die boedel.

“Ek moet my ontsteltenis uitspreek oor die toestand van die begrafnisondernemer,” lui die stukke. “By my aankoms het ek opgemerk dat [die begrafnisondernemer] in ’n woongebied geleë is en die oorledene is in ’n motorhuis aangehou. Dit was nie duidelik of die liggaam in ’n koelstoor gehou is nie, aangesien ons nie so ’n fasiliteit kon identifiseer nie.

“Ek moes dadelik optree om die oorskot na ’n waardige fasiliteit oor te plaas.”

Luidens Jean se verklaring was Henry deeglik bewus van die “onwaardige wyse” waarop sy pa se oorskot by die betrokke begrafnisondernemer gestoor is en dat die ondernemer ’n toestemmingsbrief aan haar uitgereik het wat toon dat die oorskot aan haar as sy wettige vrou oorhandig mag word.

Henry het op sy beurt ontken dat daar iets fout was met die begrafnisondernemer en gesê die brief is bloot ʼn bewys dat die liggaam verwyder is, eerder as ʼn bewys van magtiging.

Die applikante het buite die hof probeer skik, maar die respondente het die voorgestelde skikking van die hand gewys.

Beslissing

Argieffoto

Die hof het eindelik beslis dat die oorledene se oorskot onder die toesig van sy biologiese seun aan ’n begrafnisondernemer oorhandig word en die liggaam is na ’n begrafnisondernemer in die Paarl geneem. Prins sr. is eindelik Saterdag begrawe.

Die biologiese seun het in sy aansoek gevra dat die saak na die Valke of Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys word vir ondersoek na moontlike wangedrag, magsmisbruik en intimidasie. Daar is egter geen melding van dié aansoek in die hof se bevel nie.

Heinrich Gonzales van HFG Prokureurs, regsverteenwoordiger van die Prins-gesin, het egter by navraag aan Maroela Media gesê hy het instruksie ontvang om ʼn strafregtelike klag teen Moses by die polisie in te dien wat na die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) verwys sal word.

Volgens Gonzales het die respondente nie gehoor gee aan die hof se bevel dat die liggaam binne 12 uur ná die uitreik van die bevel in Henry se toesig geplaas word nie en is die liggaam eindelik deur die balju van die hooggeregshof by ’n begrafnisondernemer in Atlantis gaan haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martie Smartie ·

Ek sien rerig nie die nuuswaardigheid in hierdie gebeure/ berig nie.

Harley Davidson ·

Ek stem saam nadat ek dit gelees het het dit vir my ook gevoel asof ek nou tyd gemors het.

Pierre ·

Wys net mags misbruik kultuur, hy het met rede in Uniform gegaan

anniekiewiet ·

Soms sien ek n nuusberig as raad vir n ander leser wat dalk met n soortgelyke probleem sukkel.

Johanna ·

Dit is regtig n interne gesins probleem. Hulle was besig om te skei op daardie ouderdom, die oorledene het ook kanker gehad en ons weet hoe greedy familie so situasies kan uitbuit. Hulle was steeds wettig getroud en ek is seker daar is seer emosies aan die weduwee se kant. Elke egskeiding is eintlik baie hartseer.
Mag geregtigheid geskied.

Hasie ·

Regtig ? Sal mense nou oor dooie liggaam baklei ? Wat gat aan met die mensdom ?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.