Polisieman moor glo buite drankwinkel

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

’n Polisiebeampte (36) van Limpopo verskyn Dinsdag in die landdroshof in Polokwane nadat hy die naweek na bewering ’n man in sy motor voor ’n drankwinkel in dié stad doodgeskiet het.

Die betrokke sersant is verbonde aan die plaaslike polisie se beskerming- en veiligheidsdiens en staan nou tereg op moord. Die polisie doen intussen dissiplinêre stappe.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê Moloto Kenneth Shongwe (44) het Saterdag omstreeks 23:49 in sy motor voor ’n drankwinkel in Polokwane vir sy vriendin gewag terwyl sy in die winkel doenig was.

’n Verdagte het Shongwe in sy motor genader en hom van naby geskiet voordat die verdagte op die vlug geslaan het.

Shongwe is op die toneel dood verklaar.

Die sersant is Maandag in hegtenis geneem nadat hy hom by die polisiestasie in Polokwane in verband met die moord oorgegee het.

Die motief vir die moord is in dié stadium nog onduidelik.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die voorval veroordeel en gesê hierdie “geïsoleerde kriminele optrede” deur ’n polisiebeampte sal nie geduld word nie.

“Ons wil die gemeenskap gerusstel dat die meerderheid van polisielede gedissiplineerd is en hulle volgens die gedragskode gedra en standaarde handhaaf.”

Volgens Hadebe sal die polisie se bestuur benewens die kriminele ondersoek wat tans aan die gang is, ook daadwerklike interne stappe teen die betrokke polisiebeampte doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jywilwat

Vertrou jou polisieman, word ons van kleins af geleer… Nou wat nou?

Meisie

‘n Drankwinkel wat 10 minute voor aandkloktyd nog oop is?

ES

Spoeg ek nou amper my koffie uit toe ek lees “… meerderheid van polisielede gedissiplineerd is en hulle volgens die gedragskode gedra en standaarde handhaaf.”

Dit moet lees “net ‘n handjie vol”.

Jessey

Wil my voorkom die Minister moet eerder vuurwapens bd Polisie beter beheer as die “mal” voorstelle. As dit so groot issue was sou die artikel gelees het “Burger gebruik Gelisensieerde self verdediging vuurwapen om moor voor Drankwinkel” Pfft

Ben

Iets klink nie reg nie. Die man sit in sy kar voor ñ drankwinkel 10 voor 12 en wag?? vir sy vriendin (wat sy vrou nie ken nie) Ha ha.
Daai winkels is nie daai tyd oop nie.
Dit is ñ “pic up point” vir dames.