Polisieman ná gewapende roof doodgeskiet

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

ʼn 26-jarige man is Dinsdag in die vroeë oggendure in Limpopo gewond en in hegtenis geneem ná ʼn oor-en-weer-skietery waarin ʼn polisiebeampte dood is.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het omstreeks 03:00 op ʼn rooftog by ʼn kruidenierswarewinkel buite Giyani reageer.

“ʼn Onbekende hoeveelheid gewapende verdagtes het op die winkel toegeslaan en ʼn onbekende bedrag geld en kruideniersware gesteel,” het Mojapelo gesê.

Toe die polisie by die toneel opdaag, het die verdagtes reeds gevlug. Die polisie het die gebied deursoek en op ʼn verdagte voertuig op die pad wat na Phalaborwa lei, afgekom.

“Die polisie het die voertuig gedwing om stil te hou, waarna ʼn skietgeveg uitgebreek het. Een van ons lede is noodlottig gewond.”

Die verdagtes het uit die voertuig gespring en te voet weggehardloop. Een van hulle is gewond en op die toneel in hegtenis geneem. Hy is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.

“Die vermoede bestaan dat van die ander verdagtes ook gewond is. ʼn Volskaalse soektog is van stapel gestuur en duur voort.”

Die polisie het op twee vuurwapens, ʼn Toyota Quantum en drie selfone beslag gelê.

Die Giyani-polisie ondersoek ʼn saak van moord en gewapende roof.

Die verdagte sal in die Giyani-landdroshof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

Die polisiebeampte se naam kan nie nog bekend gemaak word nie totdat al sy familielede van sy dood in kennis gestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hasie ·

Om ‘n polisieman of vrou in ons mooi land te wees moet seker nie lekker wees nie. Daar is altyd kritiek teenoor die polisie, in sekere gevalle het seker meriete, maar kyk nou wat gebeur hier. Die polisie voer hul pligte uit en word doodgeskiet. Ons mooi land word lelik gemaak deur moordenaars en dit wil voorkom of die regering dit so wil hê. Wat het ons regerings mense al gedoen om al die moorde te stop, net mooi sweet blou-all. Ek voel jammer vir die oorledene se familie wat nou sonder ‘n broodwinner moet aangaan met hul lewens. Jammer mnr president, ek keur die moorde in SA nie goed nie. Dit is onaanvaarbaar en afskuwelik om die minste te sê

Cherokee ·

Dit is gevaarliker om te boer as om poeliesman te wees. Jy kan dit ook vir jou meneer sê.

AL ·

Dit wil voorkom of daar n berugte moordbende opereer in Limpopo. Wat gaan die polisie doen daaromtrent?
Geweld (moord) op boere en polisiemanne is onaanvaarbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.