Polisieman ná jarelange stryd bevorder

Kol. Walter Joseph Adams is na ‘n jarelange stryd eindelik bevorder.

Die polisie het hom skuldig gemaak aan onbillike arbeidspraktyk deur nie kol. Walter Joseph Adams amper vyf jaar gelede tot kolonel te bevorder nie. Só het die Sektorale Bedingingsraad vir Veiligheid en Sekerheid (SSSBC) bevind.

Adams, ‘n polisiebeampte van die Wes-Kaap, voer jare lank reeds die stryd om bevordering, nadat ʼn kandidaat met minder ervaring, wat boonop nie die regte kwalifikasies vir die pos het nie, bo hom vir bevordering gekies is.

Ingevolge die uitspraak moet Adams bevorder word tot kolonel en die datum van sy bevordering moet na 1 November 2016 terugdateer word.

Solidariteit het die saak namens Adams na die bedingingsraad verwys. Volgens Solidariteit is daar onbillik teen Adams opgetree deurdat ʼn kandidaat, ʼn lt.kol. Setunku, deur die polisie in ʼn vakante bevelvoerderpos aangestel is. Daar is tydens arbitrasie egter bewys dat Adams die meer bevoegde kandidaat was.

“Adams het aansoek gedoen vir die bevorderingspos van bevelvoerder, ʼn posisie waarin hy reeds verskeie kere vir lang tydperke waargeneem het. Met sy 31 jaar diens waarvan hy 16 jaar luitenant-kolonel was ten tye van die advertering van die pos, was hy nie net een van die sterkste kandidate nie, maar die aangewese persoon om die pos te beklee,” sê Ronel Stander, organiseerder van die openbare sektor by Solidariteit.

Die pos is egter gegee aan ʼn kandidaat met slegs 13 jaar diens, waarvan vyf jaar as luitenant-kolonel.

Solidariteit sê dit was verder kommerwekkend dat Setunku nie net minder ondervinding gehad het nie, maar ook die paneel onder ʼn vals indruk gebring het deur voor te gee dat sy oor ʼn kwalifikasie beskik wat sy nog nie verwerf het nie.

Die vakbond het aangevoer dat die puntetoekenning vir die twee kandidate bevraagteken moet word aangesien daar aan Setunku veel hoër punte toegeken is ten koste van Adams.

Stander sê die polisie was ook onwillig om ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) dokumentasie aangaande die bevorderingsproses aan Solidariteit en die arbiter beskikbaar te stel, wat hierdie feite aan die lig sou bring.

“Dit is duidelik dat die aanstelling doelbewus en met voorbedagte rade geskied het. Die paneel was bevooroordeeld ten gunste van Setunku en het gekies om hierdie onervare kandidaat in die polisie as bevelvoerder aan te stel eerder as om ʼn eerlike, lojale en ervare kandidaat aan te stel.”

Stander sê Ettienne Pio, ʼn litigant verbond aan Solidariteit se kantoor in Bellville, het onophoudelik gewerk om te verseker die saak – wat sowat vier jaar lank gesloer het – is suksesvol.

Sy sê Solidariteit kan nie hierdie soort diskriminasie duld nie.

“Ons is verheug oor die uitspraak en dat reg en geregtigheid vir Adams geseëvier het. Die boodskap aan die polisie se bestuur is duidelik gestel, naamlik dat Solidariteit die waghond sal wees oor sy prosesse en nie sal toelaat dat ons lede onregverdig behandel word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Willem ·

Hoop sy word nou afgradeer na konstabel. Want as sy gelieg het hoort sy eintlik nie in polisie diens

Dries ·

Daar is sekerlik baie sulke gevalle, nie net in die polisiediens nie, maar oral in die staatsdiens.

Stefan ·

As hy gelieg het oor sy kwalifikasie behoord hy glad nie in die polisie diens te wees nie.
Tog onaanvaarbaar dat die ene skelm aangestel word om ‘n ander skelm te vang, dis dan natuurlik weer ‘n resep vir korrupsie.

Sarel ·

Alles goed en wel my vraag wie gaan die man nou beskerm teen intimidasie deur Snr Offisiere

Mariana ·

En so lyk dit in die polisie, mense met ervaring en jare diens bly agterweë vir bevordering sodat die onbevoegde leuenaars kan aanbeweeg. Onregverdige behandeling omdat hulle nie swart is nie. Dit is verregaande. Maar dit lyk ook so oral waar mens gaan.

Stefaan ·

Ek ken Blanke Kapteine wat al 26 jaar op die rang vassit. O ek moet noem hulle is Blank

Suzette ·

So wat gebeur nou met setunku – sy moet summier geskors word -SONDER ENIGE verdere salaris en voordele.

Tanniepetoors ·

Kla haar aan van bedrog en dank haar af. Wat onregmatige bevorderings betref. Die staatsdiens is vrot daarvan. Onbevoegde mense wat kamtig drie of meer tale kan praat met drie jaar ondervinding word aangestel bo kandidate wat ver bogemiddeld tweetalig is met vyftien en meer jaar ondervinding en beter toepaslike kwalifikasies.

Pieter ·

Gebeur gereeld. Dom seniorbestuur stel dommer middelbestuur aan. Dit self meegemaak. Gelukkig lei baie paaie na Rome toe en daar is ‘n hoër hand. Moenie op prinse vertrou nie.

Elize ·

Kader ontplooiing en viktimisering aan die orde van die dag.

Susan ·

Sjoe, die vlaag negatiewe kritiek, hoewel geregverdig, maak my benoud. By die lees van die berig ervaar ek toe ‘n oorweldigende gevoel van dankbaarheid teenoor Solidariteit vir die vasbyt en deurdruk en uiteindelike oorwinning! Ek salueer julle!

Ansie ·

Knap gedaan. Wat reg is is reg. Die ANC se rasonderrok hang darem maar ver uit. Is Setunku darem vuurwapenvaardig?

Jaco ·

Iets maak nou nie vir my sin nie: dié kolonel is nie wit nie, maar hy is nie bevorder nie. Diskrimineer regstellende aksie dan teen kleurlinge ook? Is hulle dan “nie swart genoeg nie”? Sover ek weet was kleurlinge óók slagoffers van apartheid. Hoe dan nou?

Magda G ·

Hoop sy word afgradeer na skoonmaker.
Geluk Solidariteit en mnr Adams vir die aanhou baklei vir bevorsering

Jannie van Niekerk ·

Die probleem met die SAPD is dat daar meer kolonels en brigadiers in diens is as wat daar konstabels , sersante en adjudantoffissiere is. Die jammerte hiervan is dat meer as 95% van daardie kolonels en brigadies onbekwaam is vir so senior pos.
Hulle is nie op meriete of kwalifikasies aangestel nie, maar as gevolg van die feit dat hulle ANC, SAKP of EFF ondersteuners is. Daar behoport ‘n polisiewet te wees dat geen polisieiman wat korter as dertig jaar in die polisie is as Lt kol of kolonel aanegstel mag word nie. Hulle moet ook ondervinding in fisiese polisiewerk hê en nie as skoonmakers of klerke diens gedoen het nie. Politiek het ons eens trotse polisiemag vernietig.

Casper ·

Ek wonder net tot watter rang is hy nou bevorder,seker brigadier.Hy gaan ‘n groot terugbetaling key.

Jaco ·

Baie bly vir kolonel Adams, hy verdien dit. Steek egter dwars in die krop, het saak met selfde meriete verwys na Solidariteit, ek het al die werk gedoen, hul Moes net verwys vir arbitrasie maar nee, ek mos net n A/O, nie so hoog geag soos n Lt Kol of selfs Generaal nie. Solidariteit moet hul dubbele standaarde staak, ons almal betaal dieselfde lidmaatskap(het in my geval, kan nie onregverdigheid verdra nie)

Windpompi ·

My man tree nou af na meer as 20 jaar in dieselfde rang en amper dubbel soveel jare diens. Dan kry jy ander wat binne 5 jaar 3-4 range klim

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.