Polisieman naby Queenstown doodgeskiet

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie is op die spoor van ʼn vermeende ryloper wat ʼn 30-jarige polisiebeampte Saterdagaand in sy voertuig naby Queenstown in die Oos-Kaap doodgeskiet het.

Kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, sê die polisiebeampte en sy broer was die aand omstreeks 21:00 onderweg na die Ezibeleni-nedersetting, naby Queenstown, toe hulle die ryloper ʼn saamrygeleentheid aangebied het.

Soci sê toe die voertuig die Ezibeleni-kruising nader, het die beampte se broer hom gevra om stil te hou. Toe die broer uit die voertuig klim, het hy na bewering skote in die voertuig hoor afgaan. Dit is toe dat die ryloper die beampte glo geskiet het.

ʼn Saak van moord is aanhangig gemaak. Volgens Soci is die motief vir die moord nog nie bekend nie.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die skuldige kan lei, kan die ondersoekbeampte, lt.kol. Mawethu Kobese, by 071 481 2437 of ao. Zamikhaya Nkampini by 071 481 2686 bel.

Die Oos-Kaapse polisie se bestuur het sy medelye met die beampte se familie, vriende en kollegas betuig.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het die skietery veroordeel en gesê die polisie sal nie rus voordat die skuldige agter tralies is nie.

Intussen is ʼn sekuriteitsbeampte ook Vrydagmiddag geskiet toe ʼn skietery tydens ’n transitorooftog in Stretford by Orange Farm in Gauteng uitgebreek het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is na die toneel ontbied waar hulle ʼn bakkie en ligte voertuig in die middel van die pad aangetref het. Verskeie lede van ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy en polisie was reeds op die toneel.

Paramedici het die sekuriteitsbeampte leweloos in die bakkie aangetref.

Volgens Meiring het die beampte aan ʼn skietwond in die bors beswyk. Hy is op die toneel dood verklaar.

Twee ander sekuriteitsbeamptes was ongedeerd.

Die polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Daleen ·

Iets klink nie lekker nie. Hoekom sal ‘n polisiebeampte ‘ n ryloper oplaai tensy 1) hy het hom geken 2) sy broer het hom gevra om dit te doen. Hoekom het die broer gevra dat hy stil hou? Wat het gebeur na sy broer geskiet is? Hoekom het man nie hom ook geskiet nie want hy kan hom uitken? Te veel vrae te min antwoorde.

Prikkie ·

Tragies! Moenie rylopers oplaai nie, al staan hulle ook met ‘n R200 noot wat hulle rondswaai.

ES ·

Ek is nie gretig om mense ‘n saamrygeleentheid te gee nie. Selfs op universiteit was mense geneig om vir saamrygeleenthede te vra.

Ongelukkig ken mens nie die persoon saam wie jy ry nie en mens kan nie te versigtig wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.