Die hof het bevind dat Jerome Earl King redelik opgetree het in die uitvoering van sy pligte. King het in 2007 ʼn rower doodgeskiet nadat laasgenoemde en ʼn makker by die Bonteheuwel-poskantoor ingebreek het.
King en ʼn kollega is na die toneel ontbied. King het die rowers gemaan om hulself oor te gee waarna hy ʼn waarskuwingskoot afgevuur het. Die rowers het egter geweier om hulself oor te gee. King het nog twee waarskuwingskote afgevuur en in die proses een van die rowers doodgeskiet.
King het tydens sy verhoor getuig dat hy ʼn waarskuwingskoot in die lug wou afvuur. Hy is ondanks sy getuienis skuldig bevind aan moord.
Regter Patricia Goliath het egter dié uitspraak ter syde gestel en gesê daar kan nie bo redelike twyfel bewys word dat King die skote afgevuur het met die doel om die rower dood te skiet nie.