Polisieman ook dood ná hy vrou, swaer vermoor

Die Durban-landdroshof. Foto: Google Maps

Die polisiebeampte wat Maandag sy vrou en swaer by die landdroshof in Durban doodgeskiet het en daarna homself geskiet het, het aan sy beserings beswyk.

Kol. Thembeka Mbele, KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, het bevestig die beampte is Maandagaand in ʼn hospitaal dood.

Maroela Media het vroeër berig die polisieman en sy vervreemde vrou was omstreeks 11:00 in die hof om hul skeisaak af te handel.

Tydens ʼn reses het ʼn woordewisseling tussen die polisieman en sy vrou ontstaan waartydens die man haar en haar broer na bewering doodgeskiet het.

Daarna het die man homself geskiet, maar oorleef. Hy is in ʼn baie kritieke toestand onder polisiebewaking in ʼn nabygeleë hospitaal opgeneem. Volgens mediaberigte het die polisieman en sy vrou twee kinders.

Michael Masutha, minister van justisie (Foto: Chantall Presence/ANA)

Adv. Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het intussen gesê hy het met skok van die voorval kennis geneem.

“Ek het my departement opdrag gegee om ʼn amptelike ondersoek van stapel te stuur oor die voorval. Die voorval is ingewikkeld aangesien die skieter ʼn polisielid was. Die veiligheidsbeamptes by die hof het ook nie geweet hy was self by ʼn hofsaak betrokke nie en het dus nie redelike gronde gehad om te vermoed dat hy ʼn oortreder is nie.”

Masutha het sy medelye met die oorledenes se families betuig. Hy het gesê hy sal met die minister van polisie vergader om ʼn gesamentlike poging te verseker ten einde veiligheid by die howe op te skerp en te probeer keer dat ʼn soortgelyke voorval hom afspeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annelize ·

Ja, dis nou “cut you nose to spite our face”. En AL wie hierdeur “gespite” word, is die arme kinders wat nou wees gelaat is, en die families wat die kinders deur hierdie gemors moet help.

Jozi ·

Die arme kinders.
Asof die egskeiding nie alreeds erg genoeg was nie.
Ek hoop hulle gaan vir trauma berading en dat daar goeie mense is wat na hulle gaan omsien.

Alida ·

As hy die Verweerder was moes hy nie eers in die hof gewees het nie. Net die Eiser gaan.

Peter Holmes ·

Wat is so ingewikkeld Mnr. Masutha. Moord is moord. Volgens my ou Strafreg handleding van Snyman se dit: Moord is die wederregtelike en opsetlike veroorsaking van die dood van n ander mens. Is die wet intussen verander om polisie lede spesiale vergunnings toe te staan ????.

Stripes ·

My vraag is hoekom is hy met sy vuurwapen daar toegelaat en dit nogal terwyl hy self ook moes verskyn? In my tyd in die SAP was vuurwapens glad nie toegelaat in die gebou nie. Ongeag of jy aan diens was of nie, getuienis moes lewer of waar jy die beskuldigde was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.