Polisieman oorleef Covid-19 ‘wonderbaarlik’

Nico en Lizette Delport (Foto: Verskaf)

“Dit is ’n wonderwerk dat ek oorleef het.”

Só vertel Nico Delport (51), ’n polisiebeampte van Sasolburg in die Vrystaat, wat in Julie verlede jaar by die dood omgedraai het nadat hy Covid-19 opgedoen het. Dokters het aanvanklik gemeen Delport het ʼn 5%-kans om te oorleef nadat hy in die hospitaal opgeneem is met erge Covid-19-simptome.

Sy suster, Gerda de Wet, was egter nie so gelukkig nie en is in dieselfde tyd aan Covid-19 oorlede.

Meer as ses maande later ry Delport se gesondheid nog steeds wipplank en waarsku hy mense nou meer as ooit om die virus ernstig op te neem.

Delport het in Julie die virus vermoedelik by die werk opgedoen.

“Ek het Sondagaand (5 Julie) begin grieperig en pap voel. Ek het nie veel daarvan gemaak nie en Maandag gaan werk. Ek het die aand sieker begin voel,” vertel Delport aan Maroela Media.

“Alles wat van Maandagaand af gebeur het, voel soos ’n blank.”

Volgens Delport se vrou, Lizette, het hy die aand deurmekaar begin praat en is toe die volgende oggend in die Netcare Vaalpark-hospitaal opgeneem. Daar het hy positief vir Covid-19 getoets en is ook met erge brongitis gediagnoseer. Hy is aan ’n ventilator gekoppel.

“Terwyl ek in die hospitaal gelê het, het ek so ’n oomblik van helderheid gehad. Ek het besef ek is in die hospitaal. Ek was bang om te slaap, want ek was bang ek word nie weer wakker nie.”

Die Woensdagoggend het Delport se hart twee keer gaan staan – waarna die dokters hom elke keer weer bygebring het. Hulle het toe ’n spesialis gekry om hom onder verdowing te plaas.

“Ek het blykbaar soos ’n besetene tekere gegaan, hoewel ek absoluut niks kan onthou nie.”

Nico se suster, Gerda (Foto: Verskaf)

Die dokters het vir Lizette gesê dat hy ’n 5%-kans het om te oorleef, maar hy het ná agt dae onder verdowing wakker geword. Vyf dae later is hy ontslaan.

In die tyd toe Delport in die hospitaal onder verdowing was, is De Wet in dieselfde hospitaal aan die virus oorlede.

“Sonder dat ek geweet het, het my sussie in die saal langs my gelê en ook ’n stryd teen die virus gevoer. Sy is die aand voordat ek wakker geword het, oorlede.”

Lizette het ook positief vir die virus getoets, maar het tuis geïsoleer.

Ses maande later gaan dit al stukke beter met Delport. Hy is nog kort van asem, sukkel met spierkrampe en van sy spiere is nog swak. Hy gaan ook gereeld dokter toe om sy hartspier, wat tydens sy Covid-19-stryd seergekry het, te monitor.

Delport is ook al terug by die werk, maar vat dinge nog rustig.

“Die proses met Covid-19 duur langer as wat ’n mens besef.”

Delport beskryf sy oorlewing as ’n wonderwerk en sê gebed het hom daardeur gedra.

“Mense van heinde en ver het vir my gebid.”

Delport het intussen saam met Lizette en vriende in gebedsgroepe by hul plaaslike hospitale in Sasolburg gaan bid. Hulle het Vrydag in die Vaalpark-hospitaal en Sasolburg se provinsiale hospitaal se parkeerterreine bymekaargekom en vir personeel en pasiënte gebid.

“Covid-19 is ’n werklikheid en mense moet besef dit is nie ’n speletjie nie. Ons moet op ons knieë gaan en bid vir ons land se mediese personeel wat so baie abnormale sterftes moet beleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bont ·

My hart gaan uit na julle. Sterkte met die afsterf van jou suster. Ek haal my hoed af vir elke mediese persoon wat hulle lewe op die spel plaas om ons ondankbare nasie te red.

Samuel ·

Dit is wonderlik om te weet gebed het hom deurgedra. Waarom is daar sóveel mense wat steeds alle veiligheidsmaatreëls oorboord gooi? Die President praat, maar dit help nie.

Hennie ·

Bly hy het dit oorleef. Covid is ‘n werklikheid – wees baie versigtig.

Marcello ·

Stterkte met die afsterf van jou suster. Dit laat my nou dink aan my oom wat langs my oupa in die hospital gesterf het, sonder dat my oupa daarvan bewus was. My oom (sy seun) is laat die nag opgeneem, die gordyne is om hom getrek. Die volgende oggend toe my oupa opstaan om te gaan bad, het hy agtergekom maar die dit is doodstil langsaan hom,, toe hy kyk was my oom reeds dood. Tot vandag toe kan ek nie verstaan hoe niemand die konnektasie kon maak dat 2 pasiënte met dieselfde van en voorname nie verwant aanmekaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.