Polisieman op wynplaas doodgeskiet

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die Valke het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat ʼn polisiebeampte van die Stellenbosse misdaadvoorkomingseenheid Woensdagaand op ʼn wynplaas buite dié dorp doodgeskiet is toe hy ʼn huisrower agternagesit het.

Volgens kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het die polisie vroeër die dag inligting ontvang van ʼn huisroof wat op ʼn plaas in die Stellenbosch-omgewing beplan word.

Dit was egter nie in daardie stadium duidelik op watter plaas die misdaad na verwagting sou plaasvind nie en die polisie is uitgestuur om die gebied te patrolleer.

Van Wyk het gesê ʼn verdagte is gedurende die patrollie gewaar waarna polisielede die verdagte agternagesit het. ʼn Skietgeveg het uitgebreek waartydens ʼn 31-jarige polisiebeampte omstreeks 21:50 in die kruisvuur op ʼn plaas gewond is. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.

Maroela Media verneem die skietery het op die bekende Meerlust-wynplaas gebeur.

Volgens Van Wyk het dit later aan die lig gekom dat ʼn rooftog wel vroeër die aand omstreeks 20:00 op ʼn plaas naby Vlottenburg plaasgevind het. Die rowers kon daarin slaag om die polisie te ontduik en is steeds soek.

Die naam van die gestorwe polisiebeampte is nog nie bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

@Bollabek ·

Dit is so baie baie tragies. Hoekom lyk dit vir my of die kriminele beter opleiding as die polisie het. Keer op keer uitoorle hulle die polisie en word net nooit gevang nie. ‘n Sin wat die media lyk my kan “copy en paste” is: Die rowers kon die polisie ontduik en is steeds soek. So verskriklik jammer vir die jong polisieman se familie. Net die Here kan hulle troos.

Siener van Melbourne ·

Met die totale afwesigheid van opleiding in die polisie dink ek klein Jannie met sy aartappel geweertjie het meer opleiding as die polisie.

Donderstorm ·

Hul moet spesiale strawe inbring vir moord op polisie mense en plaas boere en hul regte moet ontneem omdat hul ander se reg op lewe ontneem het veral die reg omte kan stem

piet piet ·

En onmiddellik word die valke aangesê om die saak te ondersoek as n plaasboere of sy werkers aangeval op dieselfde plaas was wie sou dit dan ondersoek het???

Hartjie ·

Nee Diefie, met die BAASBREIN wat agter dit sit!
Maar die wieldraai…..wat jy saai sal jy self maai!
Baie sterkte aan die familie!

Bulletproof ·

Rowers met vuurwapens is nie net gewone inbrekers nie, hulle is bereid om te moor om weg te kom. Misdaad is buite beheer. Gee belonings vir inligting wat help om misdaad te keer. Iemand weet wie die moord gepleeg het, iemand het dan die polisie gewaarsku van die huisroof.

jaco ·

waarom hoegenaamd reageer op inligting dat daar aan aanval op n plaas gaan wees? alle plaasaanvalle help mos maar eintlik die aankomende onteiening sonder vergoeding aan…

Alec ·

Julle moet mooi lees… ‘n Verdagte is agterna gesit (nog voordat enige misdaad ge pleeg is) en hy het op die polisie geskiet… Die misdadiger is bereid om op die polisie te skiet, wat se kans staan die boer en hoe maklik gaan hy op die publiek (of boer) skiet as hy so maklik bereid is om op die polisie te skiet. Die misdaad het eenvoudig heeltemal hand uit geruk in ons liewe land en as jy terug skiet, sluit hulle jou toe. Ek is jammer ek is al te oud om weg te loop, maar my kinders gaan verseker nie hulle toekoms hier bou nie. Die Wes-Kaap het lank weggekom van hierdie tiepe geweld maar ons is die nuwe “soft target”. Bid mense, bid hard!

Markus ·

Die rower moes perlemoen by hom gehad het anders sou die polisie hom nie gejaag het nie.

PJC ·

As die polisie hierdie klomp se poging nie in die wiele gery het nie was daar heel waarskynlik weer ń plaasmoord want hierdie klomp skroom nie eers om op die polisie te skiet nie en boere is ń baie makliker teiken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.