Polisieman raakgery, raadslid geskiet tydens betoging

EFF-raadslid Lebo Dlamini wys waar sy met ‘n rubberkoeël geskiet is. (Foto: ANA)

ʼn Polisiebeampte en ʼn EFF-raadslid is gewond tydens voortgesette betogings oor dienslewering in Kwaggafontein in Mpumalanga.

Raadslid Lebo Dlamini het aan African News Agency (ANA) gesê sy is Dinsdagaand vier keer met rubberkoeëls geskiet – na bewering deur ʼn polisiebeampte. “Ek was op pad huis toe van die Buhlebesizwe-nedersetting af toe ʼn groep van omtrent vyf polisiebeamptes my op die straat voorgekeer het,” vertel Dlamini.

“Die beamptes het gesê hulle wil kyk of daar enige petrolbomme in my motor se kattebak is. Een het vir my gesê om op die grond te kniel en ek het dit gedoen. Dieselfde beampte het my foon geskop wat ek in my hand gehou het en dit het op die grond geval. Ek het probeer om my foon te gryp, maar hy het my geskiet, twee keer op my arm, op die bors en op die voet,” het Dlamini gesê.

Sy het na die plaaslike kliniek gery vir hulp aangesien sy erg gebloei het en in baie pyn was, maar sê die kliniek was gesluit weens die betoging. “Ek was nie betrokke by die betoging nie. Ek soek geregtigheid. Daar is geen manier wat ek met my motor tot by die betogingstoneel kon gery het nie,” het Dlamini gesê.

Betogers het verwoesting gesaai in Kwaggafontein, Mpumalanga. (Foto: ANA)

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê ʼn saak van poging tot moord is aanhangig gemaak in verband met Dlamini se voorval. Hy het gesê die saak sal deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word.

Hlathi het aan ANA gesê in ʼn onverwante voorval is ʼn manlike polisiekonstabel ook Dinsdagaand ernstig beseer in ʼn tref-en-trap-ongeluk in ʼn ander straat in die gebied. Hy sê die konstabel was besig om klippe uit die pad te verwyder wat deur betogers gepak is, toe ʼn voertuig hom getref het.

“Hy is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal. Sake van roekelose en nalatige bestuur en versuim om op ʼn ongelukstoneel stil te hou word ondersoek,” het Hlathi gesê.

Die betoging het Maandag in die vroeë oggendure begin met honderde inwoners wat op ʼn verwoestingstog gegaan het. Hulle eis lewering van basiese dienste, insluitend water, van die Thembisile Hani-munisipaliteit.

Die munisipaliteit kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Well done aan die polisie, maar is tyd dat hulle die mense wat so betoog en alles afbreek bietjie reg sien. (ENigeen wat kan dink weet alles is te danke aan anc, eff …. en hulle vriende- klomp kan net lieg sover hulle gaan).

Elna ·

Plaas dat hulle betoog oor die belaglike duur kos en brandstof prysse maar nee hulle betoog oor onbenullige goed. Waar bring hulle betogings hulle?

Johanna Botha ·

Betoog en beroof nog meer en brand jou eie kind se skool …regtig watse ouer doen so iets. O en die betogers moet liefs nie gaan stem nie

Heksie ·

Ons polisiemanne is nou ook gatvol vir die geweld! Welgedaan SAPS dat julle niemand ontsien het nie! Dis mos al taal wat verstaan word, sit die lot op hul plek!

Neewat ·

Dit is die monsters wat JULLE grootgemaak het en heeldag MONITEER > kry vir julle.

emily ·

DB, ek stem so 100% saam met jou.
Die betogings in die verdomde land ruk nou handuit. Brand en breek af. GEWELD is mos vir hulle die antwoord. Weet nie wat hulle daardeur wil bereik.

marous ·

Kry eers die polisie se weergawe van waarmee sy besig was voor hulle haar gestop het .

Salome Jansen ·

Daar is BAIE mense wat soos jy onskuldig by betogings beseer of beroof word. As n RAADSLID moet jy eerder die betogings as n probleem aanvat as SAPS wat hul werk doen.

HPV ·

Die eff is mos van die grootste aanhitsers tot betogings, so eff raadslid waaroor kla jy nou? Dit was een van min gevalle waar die Polisie maar net hul werk, waarvoor die belastingbetaler betaal, gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.