Polisieman red ‘ouma’ uit rivier

Konst. Moleko Mabe bring Emma Tlaleng Mahloko na veiligheid. (Foto: Verskaf)

’n Vrystaatse polisiebeampte word geloof vir sy onbaatsugtigheid nadat hy ’n vrou uit ’n rivier in die omgewing van Phuthaditjhaba, sowat 50 km van Harrismith, gered het. Die vrou is deur ’n sterk rivierstroom meegesleur.

Konst. Moleko Mabe het op sy voete gedink en sy belt ingespan om Emma Tlaleng Mahloko (67) uit die water te trek. Selfs die teenwoordigheid van ’n slang kon hom nie van sy doel laat afsien nie.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê Mabe was Maandag omstreeks 05:30 saam met ’n kollega in ’n polisievoertuig op pad werk toe, toe hulle oor die tweerigtingradio hoor van ’n vrou wat deur ’n sterk stroom in die Kgoptjanerivier agter die plaaslike polisiestasie meegesleur is.

Die twee polisiebeamptes het hulle na die toneel gehaas waar verskeie gemeenskapslede hulpeloos op die brug gestaan en toekyk het.

“Ek kon die ouma om hulp hoor skree vanuit die ruie omgewing binne-in die rivier. Ek kon haar eers nie sien nie, maar het my amateur-swemvaardighede ingespan en deur die takke tot in die modderige Kgoptjanerivier gegaan,” vertel Mabe.

Konst. Moleko Mabe en Emma Tlaleng Mahloko kom vanuit die water. (Foto: Verskaf)

Die rivier het in dié stadium sterk gevloei weens onlangse reën in die gebied.

“Ek het haar uiteindelik opgemerk waar sy aan ’n tak van ’n boom vasgeklou het. Dit was egter moeilik om haar te bereik weens ruie takke. Ek het uiteindelik die risiko gewaag, in die rivier geduik en geswem totdat ek haar bereik het.

“Ek was nie bang vir verdrink nie, want my fokus was daarop gestel om die ouma te red. Ek het vir haar gesê ek is hier om haar lewe te red.”

Mabe vertel dat ’n vreesbevange Mahloko by hom wou weet hoe hy haar sou red aangesien hy geen tou by hom gehad het nie.

Emma Tlaleng Mahloko word na veiligheid gebring. (Foto: Verskaf)

“Ek het haar gevra om aan my belt vas te hou en het saam met haar na die oewer van die rivier begin swem. Ek het amper vyf minute gesukkel om die oewer te bereik.”

’n Bejaarde gemeenskapslid, ene meneer Mathe, het by die steil oewer hulp verleen om albei uit die water te help.

Die mans het Mahloko stadig tot naby die pad gehelp. “Ek het ’n slang langs die pad in die gras gesien, maar nie eens daarop ag geslaan nie. Ek het net daaraan gedink om die ouma na veiligheid te bring.”

Die vrou is ná haar noue ontkoming na die polisiestasie geneem waar sy met familielede herenig is.

Lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiehoof, het Mabe intussen vir sy “onbaatsugtigheid” geloof.

“Hierdie polisielid het nie twee keer gedink voordat hy die ouma se lewe gered het nie. Hy het sy eie lewe in die proses gewaag. Dit ly geen twyfel nie dat konst. Mabe nié net ’n plig uitgevoer het nie, maar waarlik sy roeping uitleef. Hy is ’n voorbeeld vir ander polisiebeamptes,” het Motswenyane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Magda G ·

Baie dankie vir sy onbaatsugtige hulp. Hy sal geseen word.

Casper ·

Konstabel Mabe,dankie vir jou onselfsugtige daad om die red van ‘n ander persoon eerste te stel sonder om aan jou eie veiligheid te dink.Oom met die hoed ‘n ware toegewyde polisiebeampte.Gee erkenning aan sy heldedaad en beloon hom met ‘n medalje vir dapperheid.

TO ·

Meer van jou soort nodig in hierdie korrupte polisiemag. Dankie en seën vir jou onbaatsugtige daad

Vlooitjie ·

Dis so lekker om sulke nuus vir ‘n verandering te lees! Daar is nog goeie polisiemanne en vroue daar buite! Well done!

Spook ·

Dis mos nou ‘n ordentlike man, nie bang vir uitdagings nie.
Sommer ‘n kas Bells vir jou, konstabel!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.