Polisieman roof winkel, meld vuurwapen as gesteel aan

Foto: SAPD, Facebook

Die Valke in die Wes-Kaap het Dinsdag twee verdagtes, onder wie ʼn polisieman, in hegtenis geneem vir besigheidsroof en die besit van ʼn ongelisensieerde wapen.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê drie verdagtes het na bewering Maandagoggend by ʼn winkel ingestorm, die personeel en klante met pistole gedreig en toe items soos sigarette en kontant gesteel voordat hulle op die vlug geslaan het.

Mulaudzi sê een verdagte is kort daarna in die omgewing van die winkel in hegtenis geneem met ʼn polisie-vuurwapen in sy besit.

Volgens die Valke het die polisieman glo later Maandagmiddag sy wapen as gesteel aangemeld, maar ʼn voorlopige ondersoek het hom suksesvol met die voorval verbind.

Albei verdagtes sal Woensdag in die Goodwood-landdroshof verskyn. ʼn Derde verdagte is nog nie in hegtenis geneem nie.

Intussen is die polisie in die Wes-Kaap steeds besig met ʼn soektog na onwettige vuurwapens in dié provinsie. ʼn 44-jarige man, glo die eienaar van ʼn skietbaan in Stellenbosch, is Maandag in hegtenis geneem nadat daar beslag gelê is op 18 wapens op sy perseel.

Brig. Neil Oliver, waarnemende Valke-hoof in die Wes-Kaap, sê die organisasie sal nie skroom om op te tree teen enigeen wat die wet op vuurwapenbeheer oortree nie.

“Ons wil die plaag van vuurwapenverspreiding in die Wes-Kaap teenwerk om onskuldige lewens te spaar,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leahim ·

Die polisie het nou al so n slegte reputasie by die publiek dat hulle almal moet bedank en heraansoek doen vir hulle poste en voorkeur moet dan gegee word aan die met n goeie diensrekords en woonagtig is in die hulle wyksarea.n Onafhanklike paneel bestaande uit polisie deskundiges,sielkundiges en die GPF van die onderskeie wyksareas.

Wilson ·

Ek het 20 jaar diens,skoon rekord.wou nou weer teruggaan om n verskil te maak maar is afgekeur want eks langer as 10 jaar uit. Is daar n wil by die regering om saps reg te kry?

Michelle ·

Mooi so meer en meer polisie kies die pad hul moet nou net iemand eerlik kry, die saak mooi ondersoek hy sal met nog sake verbind word. Meer rooftogte word uit gevoer met polisie en weermag wapens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.