Polisieman se jong seun beken skuld vir Brits-man se dood

Jacky Jewell saam met haar pa, Patrick Jewell, twee weke voor die botsing (Foto verskaf)

Byna drie jaar ná ’n botsing wat Patrick Jewell (65) van Brits se lewe geëis het, het die jong man wat die botsing veroorsaak het, skuldig gepleit op klagtes van strafbare manslag en die bestuur van ’n voertuig sonder ’n lisensie.

In ’n verklaring wat Woensdag in die Brits-landdroshof voorgelees is, het Kgaugelo Masenya (19) volle verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar en erken dat sy roekelose bestuur tot die botsing gelei het wat Jewell se dood veroorsaak het. Jewell, ’n geliefde pa en oupa, het byna drie weke ná die voorval gesterf.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Jewell se dogter, Jacky Jewell, wat die privaatvervolgingseenheid genader het weens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se rampsalige versuim om die saak verder te ondersoek. Die oortreder se pa is ’n kaptein in die SAPD se presidensiële beskermingseenheid. Daar word vermoed dat die SAPD se versuim om die saak te ondersoek ’n voorbeeld was van polisiebeamptes wat vir hul eie kollegas probeer skerm. Masenya was 16 jaar oud ten tyde van die voorval.

Masenya het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in April genader en versoek dat sy saak op afwending geneem word eerder as om verhoor te word. Indien dit afgewend sou word, sou dit beteken dat die beskuldigde nie ’n kriminele rekord sal hê nie. Die privaatvervolgingseenheid het Jacky gehelp om dié aansoek teen te staan weens die erns van die oortreding. Masenya het skuldig gepleit ná die aanklaer die hof in kennis gestel het dat sy afwendingsaansoek afgekeur is.

Die privaatvervolgingseenheid se ondersoeker Chris Gouws was die stukrag agter die behoorlike ondersoek van hierdie saak en, asook om dit op die rol geplaas te kry vir vervolging. Gouws het ook twee diensklagtes teen SAPD-beamptes ingedien voordat die SAPD die saak ernstig begin opneem het.

Volgens Jacky het die skulderkenning ’n enorme las van haar skouers afgehaal. “Ek kan nie hierdie gevoel beskryf nie. Geregtigheid het vandag vir my pa geskied. Ek is so dankbaar vir AfriForum se ondersteuning, in besonder Chris Gouws wat aangehou het om druk toe te pas. Op die ou end het my pa saak gemaak en daar is nou geregtigheid vir hom.”

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat Masenya se besluit om skuldig te pleit die regte ding was om te doen. “Ons is tevrede dat Masenya verantwoordelikheid aanvaar het vir die dood van Patrick. Sy optrede het ’n gesin sonder ’n pa en oupa gelaat, en onbeskryflike emosionele skade veroorsaak.

“Dit moes egter nooit drie jaar geneem het om hierdie punt te bereik nie. Jacky en haar familie het gesmag na geregtigheid, dit sou egter nooit kon geskied sonder die toetrede van die privaatvervolgingseenheid nie. Dit is nog ’n teken van ’n stelsel wat verval en die gevoellose verontagsaming van slagoffers van misdaad,” sê Bateman.

Die saak is tot 26 Junie uitgestel vir die vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SjN ·

Knap gedaan Afriforum, eers na 3 jaar skuldig gepleit, wys jou net hoe beskerm hulle mekaar, mag geregtigheid seevier. Sterkte aan Patrick se geliefdes.

domheks ·

Sy pa het hom mooi geleer – moenie skuld erken nie ek is ‘n kader – niks sal met jou gebeur nie! Dankie Afriforum julle is ons redding in die kader-klug land!

Frank ·

Hoop die persone wat die saak onder die mat probeer invee het, ry ook aan die pen

Michael ·

Polisie moet en kan nie vertrou word nie tensy dit hulle pas om iets te doen, de klerk en kie se vieslike nalatenskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.