Polisieman se moordenaar gevonnis

Argieffoto

Die moordenaar van ʼn Kaapstadse polisiebeampte is in die stad se hooggeregshof gevonnis, meer as vier jaar nadat hy die beampte voor sy vrou en driejarige seun doodgeskiet het.

Die Wes-Kaapse polisie het Dinsdag gesê sers. Bafundi Mdlalo (34) is op 29 Julie 2013 by sy huis in Montclair, Mitchells Plain, doodgeskiet.

“Mziwedingwa Putase is in die hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan Mdlalo se moord,” lui die verklaring.

Putase is ook skuldig bevind op aanklagte van roof met verswarende omstandighede (15 jaar tronkstraf), die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie (vyf jaar tronkstraf), en die diefstal van ʼn vuurwapen (vyf jaar tronkstraf). Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Konst. Nozuko Mdalo, die ontslape beampte se vrou, was tydens vonnisoplegging deur emosies oorweldig.

Waarnemende regter Bruce Langa het gesê Putase het die polisiebeampte koelbloedig en genadeloos voor sy angsbevange vrou en kind geskiet.

Langa het ao. Werner Bothma, die ondersoekbeampte, bedank wat regdeur die saak deeglike werk verrig het. Langa het ook ao. Danie Botha, en sers. Jerome Michaels van die polisie se blitspatrollie-eenheid bedank wat Putase in Ceres tydens ʼn gewapende rooftog by ʼn drankwinkel in hegtenis geneem het.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris van die Wes-Kaap, het ook al die polisiebeamptes wat betrokke was bedank. “Met September wat polisieveiligheidsmaand is, sal dié vonnis ʼn sterk boodskap stuur aan diegene wat polisiebeamptes aanval.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Callie ·

Voel jammer vir die families van die SAP lede. Wat egter uitstaan is hoe die regering en almal opspring oor n polisieman wat vermoor is. Dis reg. Dit moet so wees. Dis net almal, boere en gewone burgers verdien dit ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.