Polisieman se moordenaars hoor hul lot

hof-hamer

Argieffoto

Regter Gayaat Salie-Hlophe sal na verwagting Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof die twee mans vonnis wat skuldig bevind is aan die moord op die polisiebeampte, ao. Steven Britz, in 2014.

Voormalige konst. Luvuyo Ndevu en Mlindi Mbaliso is verlede maand skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade en roof met verswarende omstandighede. Hul medebeskuldigdes Anele Pantsi, Khayalethu Waka en Buhlali Phukwano is vrygespreek op al die aanklagte.

Ndevu het saam met Britz by die Klapmuts-polisiestasie gewerk en is ongeveer ʼn maand voor die moord geskors.

Britz was die aand van 16 April 2014 alleen by die polisiestasie aan diens toe twee mans die stasie binnegestorm het. Die pa van twee is twee keer in die kop geskiet. Die rowers het verskeie vuurwapens en ammunisie uit die polisiestasie se kluis gesteel en Britz se amptelike vuurwapen is ook vermis.

Toe getuienis om versagtende omstandighede aangehoor is, het Ndevu én Mbaliso getuig. Hulle het geen berou oor hul dade uitgespreek nie, maar het die hof gevra om toegeeflik te wees.

Mbaliso het gesê hy is jammer dat hy die motor na die polisiestasie toe bestuur het, maar hy het nie geweet van die plan om ʼn polisiebeampte aan te val en te vermoor nie. Ndevu het ontken dat hy enigsins op die toneel was en gesê hy is jammer dat een van sy kollegas dood is, maar dat hy niks met die moord te doen gehad het nie. Hy het die hof gevra om hom ʼn opgeskorte vonnis te gee.

Kriban Pillay, die staatsaanklaer, het die hof gevra vir lewenslange vonnisse en het die moord as “gewelddadig, astrant en sinneloos” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frederik ·

Ndevu ontken dat hy enigsins op die toneel was, maar vra tog die hof om hom ‘n opgeskorte vonnis te gee. Ons kan wonder waarvoor hy dan die vonnis wil hê ??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.