Polisieman se twee dogters vas vir sy moord

Argieffoto: Nico Strydom

Die polisie in Limpopo het vier verdagtes in hegtenis geneem vir die “wreedaardige” moord op ʼn polisieman van dié provinsie.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê twee van die verdagtes is dogters van die oorlede adjudant-offisier.

Volgens hom is die verdagtes, tussen 19 en 26 jaar oud, twee susters en twee broers. Die broers het egter tot dusver nié ʼn familieverbintenis met die polisieman nie.

Motlafela sê die polisieman is glo Maandagaand omstreeks 23:00 met sy aankoms by die huis deur ʼn onbekende man aangeval. Volgens ʼn ondersoek het die verdagte die polisieman met ʼn skerp voorwerp aangeval. Die dogters het glo deur die venster gekyk en gesien hoe hul pa “soos ʼn dier geslag word”. Die man is op die toneel dood.

Mojapelo sê die vier verdagtes is nié gelyktydig in hegtenis geneem nie. Die polisie kon eers daarin slaag om ʼn 21-jarige vrou en ʼn 19-jarige man vas te trek, waarna hulle Vrydag ook ʼn 26-jarige vrou en ʼn 24-jarige man in hegtenis geneem het.

“Die twee jonger verdagtes het Vrydag in die Vuwani-landdroshof verskyn en sal tot volgende week Vrydag in polisieaanhouding bly,” het hy gesê.

Hulle sal na verwagting dan eers vir ʼn formele borgtogaansoek in aanmerking kom.

Die twee ouer verdagtes sal Maandag in dieselfde landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.