Polisieman se vermeende moordenaar in hof

Mandlenkosi Happy Thwala (Foto: Verskaf)

Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy ʼn polisieman herhaaldelik met sy dienspistool geskiet het, het Woensdag in die hof verskyn.

Mandlenkosi Happy Thwala (45) is verlede week dood in sy huis in die Gedlembane-nedersetting by Pienaar in Mpumalanga aangetref. Thwala is na bewering vyf keer met sy eie dienspistool geskiet – twee keer in die kop en drie keer in sy bolyf.

Zanele Mkhonto (28) is kort daarna in hegtenis geneem vir haar beweerde betrokkenheid by sy dood. Sy was glo in ʼn verhouding met die oorledene.

Kapt. Dineo Lucky Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê Mkhonto het Woensdag in die Kanyamazane-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en ʼn bykomende aanklag van roof.

Haar saak is tot Vrydag uitgestel sodat sy ʼn regsverteenwoordiger kan kry, waarna die saak na die Kabokweni-landdroshof oorgeplaas sal word. Sy sal Vrydag aansoek om borgtog kan doen.

“Sy is in polisieaanhouding tot haar volgende hofverskyning,” sê Sekgotodi.

Genl.maj. Zodwa Mokoena, hoof van die Valke in Mpumalanga, het intussen bevestig dat die Valke voorts die saak sal ondersoek.

Mokoena het ook lede van die publiek aangemoedig om hande te vat met wetstoepassingsowerhede en inligting te deel wat moontlik met die saak verband hou.

Enigiemand met inligting oor die saak kan ao. Albert de Lange by 071 481 2815 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Waarnemer ·

Net 2 vrae……waarom was due beampte se dienspustool by sy huis?Word dienspistole nie meer ingehandig wanneer n beampte van diens af gaan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.