Polisieman skiet aanvaller dood, sterf self

Argieffoto: SAPD

ʼn Polisiebeampte kon daarin slaag om sy aanvaller dood te skiet voordat hy self aan sy skietwonde beswyk het.

Die adjudant-offisier wat aan die Phoenix-polisiestasie in Durban, KwaZulu-Natal, verbonde was, is Saterdag doodgeskiet toe hy sy huis verlaat het.

Volgens brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, was die beampte besig om sy huis in Woodview te verlaat om vir werk aan te meld toe ʼn wit Toyota Etios voor hom stilgehou het.

ʼn Man het uit die motor geklim en na die beampte geloop voordat hy op hom losgebrand het. “Die beampte kon daarin slaag om terug te skiet en die aanvaller is op slag dood.”

Die polisiebeampte het egter ook kort hierna aan sy beserings beswyk. “Die ander insittende/s van die Etios het hierna weggejaag.” Naidoo het gesê die motief vir die aanval is nog nie bekend nie.

Lt.genl. Fannie Masemola, waarnemende nasionale kommissaris van polisie, het sy skok oor die voorval uitgespeek en opdrag gegee dat daar wyd en syd na die oorblywende verdagtes gesoek word.

Volgens Masemola is hy die versekering gegee dat ʼn 72 uur-aksieplan met al die nodige hulpbronne in werking gestel is om die verdagtes vas te trek.

“Ons as polisiebestuur het ʼn streng beroep op al ons polisiebeamptes gedoen om nooit met ʼn geweer in hul hande te sterf nie.

“Ons kollega het ʼn dapper stryd gevoer. Ongelukkig het hy sy lewe verloor, maar nie sonder om te verseker dat sy aanvaller ook dood is nie,” het Masemola gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.