ʼn KwaZulu-Natalse polisiebeampte het Sondagoggend na bewering selfmoord gepleeg oomblikke nadat hy glo sy vrou ten aanskoue van omstanders geskiet het.
Reaction Unit South Africa het in ʼn verklaring gesê die voorval het teen 08:20 in Chettys Hill in Tongaat gebeur. Volgens die verklaring het die 47-jarige polisiebeampte na ʼn sopkombuis langs ʼn kerk gegaan waar sy vrou op Sondae maaltye voorberei.
“Die egpaar het rusie gemaak en die polisiebeampte het sy 9 mm-dienspistool uitgehaal en drie skote op haar afgevuur. Een koeël het haar in die arm getref. Hy het daarna na ʼn oop stuk grond agter die sopkombuis gegaan en homself in die kop geskiet,” lui die verklaring.
Veiligheidsbeamptes en paramedici is na die toneel ontbied en die polisiebeampte is op die toneel dood verklaar. Sy vrou is na ʼn plaaslike kliniek gehaas vanwaar sy deur ʼn lid van die publiek na ʼn hospitaal geneem is.
Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Sy het gesê ʼn saak van poging tot moord word ondersoek. Die polisie doen ook ʼn geregtelike ondersoek.
Die naam van die polisiebeampte word weerhou totdat al sy naasbestaandes van sy dood in kennis gestel is.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Nou hoekom doen hy nou so iets, alweer met ‘n diens pistool – sterkte aan sy vrou
Hoe flippen belaglik! Saak van poging tot moord word ondersoek. Wat ondersoek hulle? Die man het haar voor almal geskiet en hy is dood. Wat nou?
Bitter min mense sal die stres wat polisie daagliks beleef betstaan.
Dan word hierdie stres op hulle gesinne uitgehaal. Baie simpatie vir n polisieman se vrou
dis flippen simpel moord ondersoek hys dood flippen kom by wie ga hul aan kla oh hel
Dit gebeur as die keuring van beamptes nie goed is nie.