Polisieman skiet sy vrou, swaer en toe homself

Argieffoto: SAPD

Die polisie in die Oos-Kaap het hul skok uitgespreek oor ʼn gesinsmoord in Oos-Londen waartydens ʼn polisiebeampte sy vrou, swaer en toe homself doodgeskiet het.

Sivuyile Mbaduli (37), wat gestasioneer was by die Kidds Beach-polisiekantoor, was Woensdag veronderstel om vir diens aan te meld, maar het siekteverlof versoek. Hy het toe glo tuis in die informele nedersetting Nompumelelo by Beaconbaai sy vrou, dié se broer en toe homself met sy dienspistool geskiet.

Volgens die polisie het Mbaduli gister omstreeks 17:30 tuisgekom en toe na “die hoofhuis” gegaan waar sy vrou was. Sy swaer Siyabulela Cweba (44) het glo skote van buite die woonplek hoor kom. Hy het na die gebou gegaan om ondersoek in te stel.

Toe hy die hut binnegaan, het hy Mbaduli teëgekom wat hom na bewering oombliklik doodgeskiet het. Hy het die vuurwapen toe vermoedelik op homself gekeer.

Die polisie sê hul voorlopige ondersoek dui sterk daarop dit is ʼn geval van moord en selfmoord.

Die oorledene en sy vrou laat vier kinders agter van onderskeidelik sewe, nege, 12 en 15 jaar oud.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse provinsiale polisiekommissaris, het haar meegevoel met die oorledenes se naasbestaandes, vriende en inwoners van die gebied betuig. “Die SAPD sal die nodige bystand aan die familie in hul nood bied.”

Sy doen ʼn beroep op polisielede om die diens se werknemersbystandstrukture te nader om hulle met emosionele en ander persoonlike uitdagings te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MJ ·

Sou die swaer oomblikke later gaan kyk het, sou hy dalk nog gelewe het.. verkeerde plek, verkeerde tyd. Arme kinders..

leser ·

meegevoel
as ek reg onthou was daar vroër ñ reël gewees dat polisie beamptes hul diens pistole moet inhandig sodra hul werkskof klaar is, wat het daarvan geword

Hannelie ·

Ek wou nou net vra, is dit nie veiliger as hul hul dienswapens inhandig wanneer hul van diens afgaan?

LouE ·

Polisiemanne moet in hul gemeenskap kan optree self as hulle van diens af is. Polisiemanne word soms geteiken en moet hulleself kan beskerm. Hulle is veronderstel om bevoeg en stabiel te wees om ‘n vuurwapen te besit en te hanteer. Ons moet net versigtig wees om nie die uitsondering te gebruik om ‘n reel te skep nie.

zeno ·

Hoekom kan vuurwapens nie ingehandig word as die persone van diens afgaan nie.

Sê maar net ·

En hy het nie vir een oomblik gedink oor wat van sy minderjarige kinders gaan word nie… tragies..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.