Polisieman skiet vrou glo by hospitaal dood

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Jonnas Tebogo Mpete (39), ʼn polisiebeampte by die spoorwegeenheid in Silverton, het Dinsdag in die Brits-landdroshof verskyn op aanklag van die moord op sy swanger eksvrou.

Mpete het na bewering op 5 April na die Brits-hospitaal gegaan waar Ntombizodwa Khumalo (35), gewerk het. Sy was ʼn skakelbordoperateur by die hospitaal se ontvangs.

“Toe hy by die hospitaal aankom, het hy verskeie skote op Khumalo gevuur en homself daarna by die Brits-polisiestasie gaan oorgee,” sê Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Mpete het deur sy prokureur aan die hof bekendgemaak dat hy tydens ʼn vorige geleentheid skuldig bevind is op aanklag van korrupsie. Hy sal na verwagting op 19 April 2023 in dié saak in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria gevonnis word.

Die hof het ook gehoor dat Khumalo in 2021 ʼn beskermingsbevel teen die beskuldigde bekom het.

“Die saak is tot 21 April 2023 uitgestel vir verdere ondersoek wat betref die aansoek om borgtog,” het Mahanjana bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

En nadat hy bewys het dat hy geen respek vir die wette van die land het nie was hy nog ‘n polisie beampte met toegang tot wapens .

Di ·

Nog ‘n tipiese geval van kriminele in diens van die SA Polsiediens! Geen hoop vir hierdie land nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.