Polisieman steek kaper glo verskeie kere met mes

Argieffoto

Die Noord-Kaapse polisie is op die uitkyk vir ʼn ernstig beseerde verdagte nadat ʼn polisiebeampte in dié provinsie Sondagoggend een van die mans wat sy voertuig gekaap het met ʼn mes bygedam het.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, sê die polisiebeampte is ʼn lid van die misdaadintelligensie-eenheid en was Saterdagaand aan diens by ʼn geleentheid wat in Kuruman gehou is.

Die beampte het die geleentheid Sondagoggend omstreeks 02:00 verlaat. Terwyl hy op die N14 gewag het vir verkeer om verby te kom, is hy deur twee mans genader wat vir ʼn saamrygeleentheid gevra het. “Die verdagtes, gewapen met messe, het skielik vermeerder tot ses en het die polisielid gedwing om in die agtersitplek in te klim. Hulle het met hom in die voertuig na Batlharos gery,” het Kock gesê.

By Batlharos het die boosdoeners by ʼn taverne stilgehou en drie van hulle het ingegaan om bier te koop, terwyl die ander drie in die voertuig agtergebly het. “Een van die kapers het die deur oopgemaak om te rook en dit is toe dat die polisielid hom oorrompel en verskeie kere gesteek het met die slagtersmes wat die booswig by hom gehad het,” sê Kock.

Die ander twee kapers het glo probeer om die beampte terug in die voertuig te dwing, maar hy kon daarin slaag om te ontsnap.

Die beampte is onmiddellik na die plaaslike polisiestasie om die voorval aan te meld en lede van die plaaslike kriminele rekord-sentrum, die snelwegpatrollie, en beamptes van omliggende polisiestasies is ontplooi om na die verdagtes te soek. Die beampte se voertuig is daarna verlate in die Seoding-nedersetting in Kuruman gevind.

“Die polisie is tans op die uitkyk vir die verdagtes en een van hulle is ernstig beseer nadat hy gesteek is,” het Kock gesê.

Enigiemand met meer inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om die Wrenchville-polisie by 087 630 0050 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

IK ·

Sjoe, indien ‘n motor was dit seker redelik bedompig daar binne met sewe. Altyd die magiese ses in ‘n span om in staat te wees om te kan werk. Lyk my die polisieman was sonder vuurwapen op diens? Ek reken dat daar teruggesit kan word want die outjie sal uit eie gedwonge beweging mediese hulp gaan soek. Bloedmonsters kan ook seker geneem word vd spatsels? Die grootste probleem is om die voertuig weer skoon te kry vd bloed.
Kom ons leer hieruit dat jy jou ry kry wanneer jy (veral snags) genader word vir watter doel ookal.

Cherokee ·

Poliesman sonder ‘n vuurwapen op diens, sê jy. ‘n Magdom polisielede is nie bevoeg om vuurwapens te hanteer nie.

Sputnik ·

Weĺgedaan! Een rampokker wat dalk vir ‘n ruk uit die stelsel gehaal is, dalk nog permanent. Jan Alleman wonder net of die hele polisiemag so vinnig gemobiliseer sou word as hý so-iets sou ondervind. Gewoonlik moet jy eers teen ‘n uiters stadige tempo ‘n verklaring aflê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.