Polisieman sterf in gewapende roof

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

ʼn Polisiebeampte is in ʼn gewapende rooftog in Mount Fletcher in die Oos-Kaap doodgeskiet.

Brig. Marinda Mills, woordvoerder van die polisie, het gesê konst. Martin Bulelani Dlamini (38) is omstreeks 17:40 Donderdagmiddag in ʼn gewapende rooftog by ʼn winkel doodgeskiet.

Volgens Mills het nagenoeg tien gewapende mans die winkel binnegestorm en kontant van die kassiere geëis. Die polisie is ontbied en met hul aankoms het die groep rowers op die polisiebeamptes losgebrand. Konst. Dlamini is in die bolyf geskiet en is op die toneel dood verklaar.

Mills het gesê nog ʼn polisiebeampte is in die bobeen geskiet. Hy is vir behandeling na ʼn hospitaal gehaas en is tans in ʼn stabiele toestand. Volgens Mills het die rowers in twee wegkommotors gevlug en het hulle ook ʼn derde voertuig gekaap. Dié voertuig is later naby Katkop gevind.

Mills het gesê die rowers het met ʼn onbekende bedrag kontant gevlug. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Lt.genl. Celiwe Binta, provinsiale polisiekommissaris, het haar medelye met Dlamini se kollegas, vriende en familie betuig.

“Dit is nou ons prioriteit om eers te verseker dat diegene wat verantwoordelik is opgespoor en in hegtenis geneem word,” het Binta gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Winston ·

ALLE POLISIE MOORDENAARS moet die doodstraf opgelê word. Dit gaan die enigste manier wees om wetstoepassers te beskerm!!+

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.