Polisieman sterf toe skietery uitbreek  

Die toneel buite ‘n gastehuis, waar ‘n polisieman dood is. (Foto: Saps)

ʼn Polisiesersant is Vrydag doodgeskiet toe ʼn skietery in Mpumalanga uitgebreek het.

Die voorval het Vrydag teen 11:00 by Kaboweni, ʼn nedersetting buite Witrivier, plaasgevind toe die polisie toegeslaan het op ʼn groep verdagtes wat moontlik ʼn rooftog beplan het.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in die provinsie, het die polisie inligting opgevolg wat hulle na ʼn gastehuis gelei het waar omtrent 15 verdagtes vergader het. “Toe die verdagtes die polisie gewaar, het hulle begin vlug, terwyl hulle op die polisielede geskiet het. Sers. Enock Themba Nsimba (37) is in die proses gewond.”

Nsimba is onmiddellik hospitaal toe geneem, maar is by sy aankoms dood verklaar.

Die res van die polisielede het intussen die verdagtes agternagesit en kon ses van die beweerde misdadigers vastrek. Agt vuurwapens, insluitend ʼn AK-47-aanvalsgeweer en vyf pistole, is in die verdagtes se besit gevind. Daar is ook op vier motors beslag gelê.

“Gedurende die skietery is een van die verdagtes ook beseer en hy ontvang mediese behandeling. Die polisie soek nog na die oorblywende verdagtes.”

Die ses wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandag in die landdroshof op Kaboweni verskyn. Hulle word aangekla van moord en die onwettige besit van wapens en ammunisie. Volgens die polisie kan meer klagte later by die klagstaat gevoeg word.

Die provinsiale polisiekommissaris het sy hartseer oor Nsimba se dood uitgespreek en gesê sy hoop dat geregtigheid sal geskied vir dié lede wat aan diens sterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Misky

Ons sal baie vinnig ekstra tronke moet begin bou. RIV Sers. Nsimba