‘Polisieman’ teiken Pta-slagoffers

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om versigtig te wees vir ʼn man wat met ʼn slenter veral slagoffers in Pretoria teiken.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisiestasie, het gesê ʼn persoon wat homself as ʼn polisiebeampte voordoen, bel slagoffers wie se voertuie gesteel of gekaap is.

“Hy sal die mense meedeel dat die voertuig opgespoor is. Die eienaar van die voertuig word dan versoek om ʼn elektroniese betaling in ʼn bankrekening te maak sodat die voertuig uit die polisie se voertuigskut vrygestel kan word,” het Weilbach gesê.

Sy het gesê nadat die slagoffer die oorbetaling gemaak het, kan die sogenaamde polisiebeampte nie meer opgespoor word nie en sy telefoonnommer werk ook nie meer nie. “Die ‘polisiebeampte’ het in sekere gevalle selfs vir lugtyd gevra sodat hy die voertuigeienaar kan bel as al die reëlings afgehandel is.”

Verskeie aanklagte van bedrog is onder meer by polisiestasies in die Tshwane-Sentraal-polisiëringsgebied wat die woonbuurte Brooklyn, Garsfontein, Lyttelton, Moot, Villieria, Sunnyside en Silverton insluit, aanhangig gemaak.

“Die polisie is besig om die voorval te ondersoek en doen alles in hul vermoë om agter die kap van die byl te kom, veral om vas te stel hoe die verdagte persoonlike inligting van die slagoffers verkry.”

Weilbach het die publiek gewaarsku om geen betalings te maak as ʼn voertuig opgespoor word nie.

“As die voertuig by die polisie se voertuigskut gehaal gaan word, moet die eienaar self daarheen gaan met persoonlike dokumente en die voertuig se registrasiepapiere as bewyse. Geen betaling is nodig nie.”

Sy het ʼn beroep op die publiek gedoen om enige verdagte optrede dadelik by die 10111-noodnommer of by 08600 10111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

PietM ·

Waar kry hierdie knaap sy inligting vandaan om die slagoffers wie se voertuie gesteel of gekaap is te bel?

Theresa ·

Kry seker sy inligting van ‘n rekenaar af – dis seker nie so moeilik of onmoontlik nie. Hoop ons word binnekort ‘n gesig gewys.

Karma1 ·

@Anoniem – Ja-nee, ek wou ook sê: “As die kop dom is, kry die gat pak!” oftewel in Engels “Stupid gets as Stupid does”.

Idi ·

Slim, Maar kan hy nie ook dalk vas getrek word deur RICA nie, sekerlik moet die mannetjie elke keer n nuwe simkaart koop om n nuwe nr te verskaf, en mens moet moes RICA met jou ID boek?

“Just saying “dalk is ek verkeerd ek dink sommer net wat is die punt van RICA dan?

Alida ·

RICA beteken op die aarde niks. Ek dink hy en sy makkers steel of kaap self die voertuie en dan bel hy die eienaars. Dit is al waaraan ek kan dink.

Kapenaar ·

PietM, natuurlik kry hy sy inligting by die SAPD se voertuigdiefstal eenheid. Hy werk nie alleen nie, die inligting kom van ‘n lid in die SAPD, en hy deel natuurlik in die wins. Die hele spul is korrup!!! Ons het lankal nie meer ‘n Polisie diens nie. Ek haal my hoed af vir die paar wat nog steeds probeer om ‘n diens aan die gemeenskap te lewer, maar ek belowe jou…. hulle is dun gesaai!!!

Koos1 ·

Kapenaar, en jy het natuurlik bewyse vir jou uitlatings nè?
Jy is besig om ‘n storie te vat, jou eie stertjie aan te las, dit begin glo en dan as die waarheid verkoop en nog erger jy wil hê ek moet jou glo ook nog?!
Kry eers die feite of bewyse voordat jy weer sê die hele spul is korrup, asb.
As die hele spul volgens jou, korrup is, hoe is dit dan dat ons tronke 400% vol is en ons howe 2 jaar agter is met kriminele sake?

Koos1 ·

O ja net nog iets. As ‘n voertuig as gesteel aangemend word word dit op die ENatis ook gerapporteer. Die selfde stelsel waar op die hele SA voertuig lisensies hernu.
Toe ek laaste my voertuig lisensies hernu het, het ek dit by die plaaslike munisipaliteit gedoen en nie by ‘n polisiestasie nie.
So hulle het ook toegang tot die inligting asook die department van Vervoer asook Metro Polisie en nog ‘n paar ander ook.
So hou op om die polisie eerste te blameer, kry eers feite.

Tessa Burger ·

Duidelik iemand wat in sy etenstyd goeie “time mangagement” toepas. Maak ‘n paar ekstra rande in jou etensuur of teetyd.

anton ·

Jy praat baie waarheid kapenaar.
Die mense wat nie met jou saamstem nie leef in ”Denial”
Ek sal nie eers die moeite doen om die SAP te kontak as ek n probleem het want my bloeddruk sal net die hoogte inskiet!!!

Pop ·

Dalk is dit n polisisieman agter die storie. Begin soek onder julle eie manne.

Gertman ·

Stem saam Kapenaar, dis presies hoe dit gedoen word…insider wat cash soek vir krismis gee inligting uit. Hoe anders weet die skelm jou kar is gesteel, jy rapporteer dit by SAP.

MvN ·

Hoe kry mens dit nog reg om te bel sonder om te Rica…almal moet mos nou al oor geskakel wees so die polisie moet mos kan sien aan wie die nommer behoort…

Anzel ·

O en die ouens het toegang tot radios waar op die polisie werk en sektor. Die polisie kon al lankal videos deurgegaan het en gesien hoe die ouens lyk maar weereens gebeur niks nie!!!!!!

Leonie ·

Daar is defnitief iemand van binne af wat hom help. Geen van daai inligting is maklik bekombaar nie. Ongelukkig is daar heelwat vrot appels deesdae in SAPS.

Elize vorster ·

Dalk al gewonder of die detail nie verkrygbaar word in voertuig self nie. Voor in Diensboekie is al my inligting ingeskryf . Hoeveel los koop strokies en papiertjies le soms rond in die kar. Of op jou rekenaar wat in die kattebak was wat saam gesteel is.

chris liebenberg ·

lyk vir my niemand het Koos1 se skrywe gelees nie maar almal kap die sapd word tog wakker kapenaar asb

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.