Polisieman tronk toe oor omkoopgeld

Argieffoto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD, Facebook

ʼn Voormalige polisiebeampte van Limpopo is Woensdag in die Louis Trichardt-streekshof tot sewe jaar tronkstraf gevonnis nadat hy omkoopgeld van R1 000 aanvaar het.

Konst. Tshifhiwa Lawrence Matsedu (28) was ʼn speurder in Musina, maar is ontslaan nadat die bewerings teen hom aan die lig gekom het.

Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, het gesê Matsedu het in Julie 2011 omkoopgeld van R1 000 geëis van twee Zimbabwiërs. Die twee mans het by die Musina-polisiestasie opgedaag om hul skrootmetaal op te laai nadat die polisie vroeër daarop beslag gelê het. Matsedu het beweer hul reisdokumente het verval en het gedreig om hulle in hegtenis te neem.

Die twee mans het die voorval by die Valke in Musina aangemeld waarna ʼn lokval vir Matsedu gestel is. Hy is in hegtenis geneem nadat hy die omkoopgeld aanvaar het.

Genl.maj. Dibero Molatjana, hoof van die Valke in Limpopo, het Matsedu se skuldigbevinding verwelkom. “Ons is daartoe verbind om korrupsie te beveg maak nie saak wie die oortreder is nie. Ons wil met skoon hande misdaad beveg en mense soos Matsedu het geen plek in ons geledere nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Belinda ·

As hy iemand vermoor het sou hy dalk n ligter vonnis gekry het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.