Drie verdagtes is Donderdagoggend in Wolmaransstad in Noordwes in hegtenis geneem nadat hulle glo hulself as polisiebeamptes voorgedoen en by voorvalle van ontvoering en roof betrokke was.
Lt.kol. Dimakatso Mooi, woordvoerder van die polisie, het gesê die inhegtenisnemings volg nadat die verdagtes, onderskeidelik 36, 38 en 51 jaar oud, glo ʼn direkteur van die Phokwane-munisipaliteit vroeër vandeesmaand in Hartswater beroof het.
“Die drie het glo na die slagoffer gegaan en vir hom gesê hulle is lede van die polisie se intelligensiediens van hoofkantoor en dat hulle hom ondersoek. Die slagoffer is opdrag gegee om sy bankdokumente te kry en saam met die beweerde polisiebeamptes na hul kantoor in Pretoria te gaan,” het Mooi gesê.
Volgens Mooi het die verdagtes die man in Klerksdorp laat gaan nadat hulle hom gedwing het om ʼn onbevestigde hoeveelheid kontant te onttrek.
Mooi het gesê dat lede van die Hartswater- misdaadintelligensie-eenheid Donderdag inligting ontvang het oor ʼn sakeman in Jan Kempdorp in die Noord-Kaap wat met dieselfde modus operandi en dieselfde voertuig ontvoer is.
“Wolmaransstad en Klerksdorp se polisie is onmiddellik in kennis gestel van die voertuig en die drie verdagtes is in Wolmaransstad in hegtenis geneem voordat hulle enigiets van die slagoffer kon steel.”
Een van die verdagtes is volgens Mooi ʼn polisiebeampte. Twee vuurwapens, waarvan een ʼn dienspistool is, is in die verdagtes se besit gevind.
Hulle sal binnekort in die hof verskyn.
Mooi het die publiek gewaarsku om versigtig te wees vir mense wat verdag optree. “Moet nooit iewers heen gaan saam met iemand wat jy nie ken nie,” het sy gesê.
Lt.kl. Mooi , mooi gedoen -vang die skurke ?