Polisieman tydens roof by winkelsentrum geskiet

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

ʼn Polisiebeampte is Dinsdagmiddag tydens ʼn gewapende roof by ʼn Oos-Randse winkelsentrum in die kop geskiet.

Lt.kol. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), het Woensdag aan Maroela Media bevestig die rooftog het omstreeks 17:00 by die Chris Hani Mall in Vosloorus plaasgevind.

“Drie gewapende mans het ʼn winkel by die sentrum van ʼn bedrag geld en verskeie selfone beroof,” het Kgasago gesê. “Die verdagtes het tydens die voorval ʼn polisiebeampte in die kop geskiet en hom gewond voordat hulle te voet in verskillende rigtings gevlug het.”

ʼn Veiligheidsbeampte van die winkelsentrum het hulp ontbied by EMPD-beamptes op patrollie in die omgewing.

“Die beampte was getraumatiseer. Hy het verduidelik wat gebeur het en die metropolisiebeamptes gewys in watter rigting een van die verdagtes gevlug het.”

Die metropolisiebeamptes het dadelik gereageer, die verdagte agternagesit en hom in die veld langs Sefolostraat in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op ʼn gelaaide rewolwer waarvan die reeksnommer afgevyl is. Die 33-jarige verdagte is na die Vosloorus-polisiestasie geneem, waar vasgestel is hy is ʼn gesoekte misdadiger, wat glo verbind kan word met verskeie voorvalle toe op polisiebeamptes geskiet is.

Die verdagte is aangekla van poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Hy moet binnekort in die Vosloorus-landdroshof verskyn.

Die gewonde polisiebeampte is in ʼn ernstige toestand en word in ʼn nabygeleë hospitaal behandel.

ʼn Volskaalse soektog is van stapel gestuur na die verdagte se twee medepligtiges en hul buit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eugene ·

Die man was seker uit op borgtog en sal weer moontlik borg ontvang.

henda ·

Jip en die polisie sal hom sommer weer van n wapen voorsien

Lance ·

Daar is n baie goeie kaans soos ons al so baie gesien het dat hy nou uit aanhouding gaan ontsnap

Amelia ·

REGTIG henda!!!!!! hoe kan jy se “die polisie sal hom sommer weer van n wapen voorsien’??????

The Truth Project ·

Al die wapens wat wegraak uit Polisie toesig, ingedien deur wit mense wat nie lisensies kon kry nie, wapens gesteel tydens plaas en huis roof en moord. Moet ek aangaan?

Johanna Botha ·

Ja gehoor van n geval waar die polisie die R4 of R5 geweer uitverhuur het …toe word die ou geskiet en die wapen word toe by hom gevind .. kom hulle agter die persoon in beheer van die wapen kluis by die polisiestasie verhuur die wapens uit aan skelms ….HALLOOOO!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.