Polisieman tydens rooftog gewond

Foto: SAPD, Facebook

Die Gautengse polisie is op soek na agt gewapende rowers nadat hulle Dinsdag in die vroeë oggendure by ʼn treinstasie in ʼn skietgeveg met die polisie betrokke was en ʼn polisiebeampte gewond is.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 02:00 by die Pienaarspoort-treinstasie gebeur. Volgens Dlamini was ʼn paar polisiebeamptes van Mamelodi-Oos besig met hul roetinepatrollie naby die treinstasie toe hulle ʼn verdagte groep mans gewaar het.

“Onderwyl hulle die groep dopgehou het, het die verdagtes skielik op hulle losgebrand. ʼn Skietgeveg het ontstaan en die verdagtes het met ʼn bedrag kontant in onbekende voertuie gevlug,” het Dlamini gesê. Een van die polisiebeamptes is in sy bolyf gewond en na ʼn hospitaal gehaas.

Volgens Dlamini is daar ná die skietvoorval vasgestel dat die rowers die veiligheidswagte by die treinstasie vasgebind het voordat hulle toegang tot die kontant in die kluis gekry het. Die wagte is ongedeerd.

“Die polisie doen ʼn beroep op mense met meer inligting oor hierdie verdagtes om na vore te kom. Enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, sal beloon word,” het hy gesê. Inligting oor die saak kan by Crime Stop by 0860 010 111 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

lorayne ·

My gebede is met die beampte wat gewond is . . . Baie dankie dat jy help om ons Land veilig te maak! Ek bid jou ‘n spoedige, suksesvolle herstel toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.