Polisieman tydens winkelroof doodgeskiet

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

ʼn Polisiekonstabel is Vrydagaand tydens ʼn rooftog by ʼn kruidenierswinkel in Cala, naby Queenstown in die Oos-Kaap, doodgeskiet.

Konst. Joshua Vincent Gungqa (44) is doodgeskiet toe ses gewapende rowers omstreeks 18:30 die winkel ingestorm en skote afgevuur het.

Konst. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, het gesê Gungqa was van diens af ten tyde van die voorval. Toe die rowers die winkel binnekom en geld eis het, het hy probeer tussenbeide tree en een van die rowers het hom doodgeskiet. Die verdagtes het ook sy vuurwapen gevat en met ʼn onbekende bedrag kontant gevlug.

“Een van die verdagtes is ook tydens die onderonsie doodgeskiet en ʼn vuurwapen is later in sy besit gevind,” het Soci gesê. Dit is nie duidelik wie die verdagte geskiet het nie.

ʼn Saak van gewapende roof en moord word ondersoek, maar ses verdagtes is steeds op vrye voet. “Ons harte gaan uit na konst. Gungqa se geliefdes en kollegas in hierdie moeilike tyd. Die SAPD sal alle moontlike ondersteuning aan sy familie bied,” het genl.maj. Zamuthango Mki, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, gesê.

Mki het ʼn beroep gedoen op enigiemand met meer inligting om dit by ao. Zamikhaya Nkampini op 071 481 2686 of by Crime Stop op 08600 10 111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Drieks ·

Mooi CV vir die ANC. Moorde raak net meer. Gratis wapens aan die ANC misdadigers.

JR ·

RIV dapper Konstabel. Dankie dat jy jou lewe opgeoffer het om ‘n verskil te maak alhoewel jy van diens was. Sterkte aan die familie en kollegas. ( Ek le jou afsterwe voor die deur van ons regering)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.