Polisieman van moord op verpleegster aangekla

Die Tembisa-hospitaal. (Foto: Tembisa Hospital/Facebook)

Die polisieman wat daarvan beskuldig word dat hy sy vriendin vroeg Woensdagoggend by die Tembisa-hospitaal in Johannesburg doodgeskiet het en toe die wapen op homself gerig het, word met ʼn valkoog in die hospitaal dopgehou.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die betrokke beampte onder polisiebewaking in die hospitaal is, waar hy vir sy beserings behandel word.

Die betrokke konstabel wat aan die Ekurhuleni-distrik se trio-taakspan verbonde is, het Woensdagoggend by die Tembisa-hospitaal ingery terwyl hy nog aan diens was.

Dit is hiér waar hy glo sy vriendin, ʼn verpleegster, in ʼn parkeerterrein van die hospitaal doodgeskiet het voordat hy sy eie lewe probeer neem het.

Sy selfmoordpoging was egter onsuksesvol en hy is in ʼn kritieke toestand deur ʼn lugambulans na ʼn ander hospitaal geneem. Die Tembisa-hospitaal is tydelik gesluit, maar Woensdagmiddag weer oopgestel.

ʼn Saak van moord is teen die 30-jarige konstabel gemaak.

“Die motief vir die moord sal tydens die ondersoek aan die lig kom,” sê Muridili.

“Hy is onder polisiebewaking in die hospitaal, waarna hy in die hof sal verskyn sodra hy gesond genoeg is om dit te doen.”

Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, het sy skok oor die voorval uitgespreek.

“Ek is terneergedruk deur die voorval wat vandag plaasgevind het waar een van ons eie beskuldig word van so ʼn gru-daad teen ʼn vrou,” sê hy.

Mawela het reeds sy meegevoel aan die familie van die oorlede verpleegster oorgedra.

“Hoewel die beampte in ʼn kritieke toestand is, sal hy van moord aangekla word en weldra sy dag in die hof kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius ·

Hy moet boet, hoop nie hy kry parool of ‘n afgewaterde vonnis nie.

Waarnemer ·

Sodra hierdie ou by kom,gee sy vuurwapebn vir hom terug dat hy kan klaar maak wat hy begin het….minder geld wat gemors word met langdurige hofsake wat uiteindelik tog gaan uitloop op mediese parool na 3 mnde.

MJ ·

Ek weet dokters lê ‘n eed af en al daai dinge maar ek sou nou regtig nie hard probeer het om hom te red nie. Hy is ‘n moordernaar.
Plus nog die uitgawes van ‘n helikopter….belaglik

Swerwer ·

Die saak sal nou eers weer vir jare sloer en die emosionele druk van sy werk sal hom seker help om los te kom. Pateties

Yvonne ·

As dit die mentaliteit van die verkose polisie lede is, hoe gaan ek op hom staat maak vir beskerming…..ek is bewus daarvan dat dit nie almal is nie , maar onlangs nog al heelwat sulke gevalle..hoe tragies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.