Polisieman vas ná diefstal van pistool by stasie

Argieffoto: SAPD

ʼn Vrou en twee mans, van wie een ʼn polisiebeampte is, verskyn Maandag in die hof nadat ʼn gesteelde vuurwapen in hul besit gevind is.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het gesê beamptes van Kaapstad se honde-eenheid het Vrydagmiddag ʼn misdaadvoorkomingspatrollie in Parowstraat in Parow gedoen toe hulle omstreeks 14:00 ʼn man by ʼn berugte “dwelmhuis” sien ingaan het.

“Die Tygerberg-polisiëringsgebied se misdaadbestrydingseenheid was juis in dié stadium besig om ʼn soekoperasie in die huis uit te voer. Hulle het die man wat daar aangekom het deursoek en drie 9 mm-patrone in sy sak gevind,” het Van Wyk gesê.

Die misdaadbestrydingseenheid het die res van die perseel deursoek terwyl lede van die honde-eenheid die verdagte ondervra het. “Hulle is toe deur ʼn vrou genader wat aangedui het dat sy die man se ma is. Hulle het haar ook ondervra, waarna die beamptes na ʼn motor gelei is wat daar naby geparkeer was. Daar was ʼn man in die motor.” Die beamptes het die motor deursoek en op ʼn 9 mm-pistool en ʼn magasyn met 12 patrone gevind.

“Ná verdere ondervraging is daar vasgestel dat die man met die patrone ʼn 24-jarige konstabel verbonde aan die Athlone-polisiestasie is. Die 53-jarige vrou was inderdaad sy ma en die 32-jarige man wat in die motor was, sy vriend.” Al drie verdagtes is inwoners van Elsiesrivier. Hulle is op die toneel in hegtenis geneem.

“By verdere ondersoek is daar vasgestel dat die vuurwapen en ammunisie in Februarie uit die kluis van die Athlone-polisiestasie gesteel is. Daar is destyds ʼn dossier oor die diefstal oopgemaak.”

Die drie moet Maandag in die Parow-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn gesteelde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

thelsa ·

Bestry misdaad deur die SAPS eerste skoon te maak. Bendegeweld en gewapende rooftogte word deur die SAPS ‘geborg’. Skande ! Skande !

Johanna Botha ·

Wonder of hy OOK uit aanhouding gaan ontsnap soos al so baie gesien en gelees ….die polisie is n groot joke !

Leahim ·

Die polisie word van alles verdink behalwe dat hulle hul werk doen.

Chris Ws ·

Leahim,indien jy ‘n gereelde leser van MM is sal jy weet van hoeveel misdaad gevalle daar net in die’ jaar was waarby polisie lede betrokke was.Nee wat die SAPD boesem GEEN vertroue meer in nie.En minister Fikile Mbalula nog minder.

Johannes van Staden ·

Genade, wie wil nou by so n gemors aansluit . Ek sou regtig BAIE ver wegbly en dit tensterkste afraai ! Wat n vrot spul !

Johanna Botha ·

Daar is meer as 1 MILJOEN gevalle van misdaad in 1 jaar in SA …genade die polisie doen verseker nie hulle werk reg nie en tree net reaktief op. Vir meeste lede is dit net n ”job” Dit is ook wel bekend dat lede self n rekord het …..hoe wen mens met so n situasie

Pieter ·

Ralph,
Miskien is ek dalk te oud om van beter te weet maar ek kan net onthou dat ons nog altyd van patrone gepraat het en die eerste keer wat ek van rondtes gehoor het was in 1971 toe ek ‘n troepie was en het daarna maar baie selde die woord gehoor. Ek hou van my gewere en jag en al my jagpelle praat van patrone en die woord rondtes kom net so af en toe voor as een van die manne op die skietbaan of saam op jag ‘n soldaat van soorte was.

Cacophony ·

Nou die ander dag het ‘n Johan mos aorta vernouing gehad toe skrywers op Maroela Media geskryf het hoe swak die polisie is. Nou ja Johan waar is jy nou? Jy sien ou mater the proof is indeed in the pudding!!

Cacophony ·

Net vandag lees ek dat volgens statistiek SA is witmense baie meer tevrede met die diens wat hulle kry van die polisie as swart mense. Ek dink dis net so liegspul soos die kamstige afname in huisbraak. Lees net hier dan sal jy sien mense wit swart en wie ookal is keelvol vir die polisie se swak diens! Dis lankal nie meer ‘n polisiediens nie dis ‘n klug. Ag en asb moenie weer kom sanik met ag siestog daar os nog goeie polisiemanne. Waar?

Cherokee ·

Cacaphony, ek is sommer net in die bui om jou te komplimenteer met ‘n raakvattende netjies bewoorde kommentaar.

Cacophony ·

Ok ek trek sommige van my woorde terug. Daar is seker nog goeie polisiemanne. Seker hier en daar maar hulle word verswelg deur die kriminele faktor

Boet Fasie ·

Teen die tempo kan hulle die polisie vlag by al die tronke hys. Meer korrupte polisie in tronke as aan diens – hoop nie hulle kry spesiale verlof met betaling vir hulle tydperk in die selle nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.