ʼn Polisiebeampte van Brackenfell wat na bewering ʼn jong vrou verkrag het nadat hy haar van ʼn gesinsgeweldvoorval moes red, is in hegtenis geneem.
Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het bevestig die verdagte is Vrydagoggend in hegtenis geneem nadat hy uitstedig was en toe na die Wes-Kaap teruggekeer het. Hy sal Maandag in die Bluedowns-landdroshof verskyn, het Grace Langa, woordvoerder van Opod, bevestig.
Daar is vroeër berig die vrou het Sondag na die Brackenfell-polisiestasie gegaan om ʼn saak van aanranding teen haar kêrel aanhangig te maak. Sy het na bewering geen hulp of bystand van die beamptes by dié stasie ontvang nie.
Sy is toe glo terug na haar kêrel nadat sy nie bystand ontvang het nie. Sy het later weer die polisie ontbied waarna die betrokke polisiebeampte glo kort daarna by die woongebied aangekom en aangebied het om haar na ʼn veiliger plek te neem.
Die beampte het na bewering elders heen gery waar hy die vrou verkrag het. Hy het haar glo ook gedreig met die dood indien sy hom sou aangee.
Opod wou vroeër geen verdere besonderhede oor die ondersoek bekend maak nie.
“Die Wes-Kaapse polisie het ʼn interne dissiplinêre proses van stapel gestuur met betrekking tot die beweerde verkragting en die feit dat die Brackenfell-polisiestasie versuim het om die slagoffer by te staan toe sy aanvanklik hulp gesoek het,” het brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, aan Maroela Media gesê.
“Die SAPD beskou die aantygings teen die betrokke polisielid en lede van die Brackenfell-stasie in ʼn ernstige lig.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
Sleg konstabel. Daai arme vrou het ondervind dat sy werklik nêrens veilig kan wees nie.
Dit is wat gebeur as daar nie n stelsel van keuring plaasvind nie…hoe bitter tragies
Die konstabel moes al uit sy pos ontslaan gewees het en van die SAPD rol geskrap gewees het.
Dit is hoekom baie verkragtings nie aangemeld word nie, want die Polisie maak die slagoffer die skuldige.
Sny af.